Nagraadse studente loer agter die skerms van toegepaste mikro-ekonomie

Jy kan nie tydens ’n akademiese lesing leer hoe om fiets te ry nie, dus is daar altyd ’n behoefte aan praktiese sowel as professionele ervaring.

Só sê Jacques de Jongh, ’n lektor in die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.

Jacques is van mening dat akademiese leer saam met praktiese en professionele ervaring die basis vorm waarop gegradueerdes hulle loopbaansukses bou. Hy het onlangs ’n groep honneursstudente in ekonomie na die Suid-Afrikaanse Mededingingskommissie geneem om meer oor die werklike toepassing van mikro-ekonomie binne die arbeidsektor te leer.

Volgens Jacques het die studente die geleentheid gekry om te worstel met die kompleksiteit wat die mededingingsbeleid en gevolglike wetlike imperatiewe binne die Suid-Afrikaanse konteks meebring.

“As deel van een van die verskillende aanbiedings van die honneursprogram en die belofte om aan studente ’n 360-grade-ervaring te bied, het die uitstappie die ideale geleentheid verskaf vir studente om met bedryfskundiges skouers te skuur,” verduidelik hy. Hy voeg by dat die studente deur hierdie interaksie waardevolle insig oor die vereistes vir gevorderde markontledings verkry het.

Tydens die besoek het agt spesialispraktisyns – van die verskillende afdelings binne die kommissie – aan studente insig en grondige kennis verskaf oor verskeie onderwerpe wat met die rol van die kommissie verband hou.

Dit het aangeleenthede ingesluit soos kartelgedrag, samesmeltings en verkrygings, ondersoeke na teenmededingende markgedrag, die begrip van ekonomiese doeltreffendheid, asook die toepassing van mededingingsreg in komplekse omgewings.

Studente het ook die geleentheid gekry om meer by die kommissie se spesialiste te leer oor sommige van die onlangse sake wat hanteer is. Hulle het ook meer inligting oor die kommissie se merietebeurs- en kadetprogramme ontvang.

“Dit was ’n dag vol insiggewende besprekings en gesprekke rondom die huidige mikro-ekonomiese omgewing binne die land,” sê Jacques. “Baie kennis is gedeel, maar belangriker nog is dat nuwe vriende gemaak is en netwerke gebou is, wat alles tot toekomstige samewerkings tussen die NWU en die kommissie sal bydra.”

Meer oor die Mededingingskommissie

Die Mededingingskommissie is ’n statutêre liggaam wat ingevolge die Wet op Mededinging No. 89 van 1998 daargestel is. Dit is een van drie onafhanklike reguleringsowerhede oor mededinging wat ingevolge die Wet op Mededinging daargestel is. Die ander twee owerhede is die Mededingingstribunaal en die Appèlhof vir Mededinging.

Terwyl die kommissie die ondersoekende en toepassingsagentskap is, is die tribunaal die beregtingsliggaam, en hoor die Appèlhof vir Mededinging die appèlle teen besluite van die tribunaal aan.

Die kommissie word deur die Wet op Mededinging bemagtig om beperkende sakepraktyke, die misbruik van dominante posisies en samesmeltings te ondersoek, te beheer en te evalueer om billikheid en doeltreffendheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verkry.

Die doel daarvan is multidimensioneel, aangesien dit mededinging in Suid-Afrika wil bevorder en in stand hou om die doeltreffendheid, aanpasbaarheid en ontwikkeling van die ekonomie te bevorder, verbruikers van mededingende pryse en keuse van produkte te voorsien, en ook om indiensneming en die bevordering van maatskaplike en ekonomiese welstand van Suid-Afrikaners te bevorder.

Dit word gedoen deur maatreëls te implementeer om deursigtigheid in die mark te verhoog, beweerde teenmededingende gedrag te ondersoek en te evalueer, en om formele ondersoeke ten opsigte van die algemene stand van mededinging in die mark te doen.

Die kommissie verwys ook sake na die Mededingingstribunaal van Suid-Afrika, en onderhandel ooreenkomste met enige regulatoriese owerheid om die uitoefening van jurisdiksie oor mededingingsake binne die relevante bedryf of sektor te koördineer en te harmoniseer.

Hierbenewens verseker die kommissie ook die konsekwente toepassing van die beginsels van die Wet op Mededinging, en rapporteer aan die betrokke minister oor enige bepaling wat teenmededingende gedrag toelaat.

 

Jacques de Jongh (voor, in die middel) het onlangs sy studente na die Suid-Afrikaanse Mededingingskommissie vergesel as deel van hulle toegepaste module in mikro-ekonomie.

 

 

Submitted on Mon, 06/03/2019 - 13:29