Kommoditeitsrisikobestuur: studente oes ervaring

Ekonomiese onstabiliteit het die wyse verander waarop maatskappye bedryf word. Die dae waar besluite uitsluitlik met behulp van voorspellings en projeksies geneem is, is lankal iets van die verlede. Risikobestuur het ’n integrale deel van goeie bestuur en beheer geword.

Dit geld ook vir graanbemarking en ‑verhandeling waar.

Risikobestuurstudente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Ekonomiese Wetenskappe het onlangs ’n eerstehandse kykie in die werksomgewing gekry toe hulle Senwes – ’n voorste Suid-Afrikaanse landboumaatskappy in Klerksdorp – besoek het.

In die 2017/18- finansiële jaar het Senwes die grootste mielie-oes wat nog ooit in Suid-Afrika geproduseer is, gehanteer en gestoor. Statisties beteken dit dat hulle wins ná belasting met 86% vanaf R167 miljoen in die 2017- tot R311 miljoen in die 2018- finansiële jaar toegeneem het.

Volgens Zandri Dickason, programleier vir risikobestuur en senior lektor, speel doeltreffende risikobestuur ’n belangrike rol in die maatskappy se pogings om die realiteit van voedselskaarste en voedselsekerheid in die land te bestuur. 

Die groep studente, wat almal met hulle nagraadse studies besig is, het nie net die geleentheid gekry om die perseel van die Senwes Grainlink Silo in Viljoenskroon te besoek nie, maar het ook ’n dag in die geselskap van graanhandelaars en risikobestuurpraktisyns by die organisasie se hoofkantoor in Klerksdorp deurgebring.

Ten opsigte van graanbemarking en ‑verhandeling verskaf Senwes aan nasionale sowel as internasionale kliënte dienste wat met mielies, oliesade, koring en diverse sagte kommoditeite verband hou. Risikobestuur verteenwoordig ’n logiese en sistematiese metode om risiko’s wat met enige aktiwiteit, funksie of proses verband hou, te identifiseer, ontleed, evalueer, hanteer, moniteer en kommunikeer.

Volgens Frans Dreyer, Bestuurder: Senwes-makelaars, is die studente se besoek ’n bewys van die universiteit se verbintenis om gegradueerdes vir die werklikhede van die werksomgewing voor te berei. Hy sê ook dat Senwes sal voortgaan om inisiatiewe soos hierdie te ondersteun, aangesien dit as ’n belegging in toekomstige mensekapitaal dien. 

 
Risikobestuurstudente by die Senwes-hoofkantoor in Klerksdorp

Submitted on Fri, 10/19/2018 - 12:10