Intreerede spoor bedryfsnavorsing na die Tweede Wêreldoorlog toe terug

Bedryfsnavorsing (BN) is modern en uiters gesofistikeerd, maar die oorsprong daarvan kan teruggespoor word na 1939, toe die Koninklike Lugmag die reikwydte van radar begin uitbrei het.

Prof Philip Pretorius het onlangs die gehoor aan die begin van sy intreelesing op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark ’n kort geskiedenisles oor BN gegee.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is studies gedoen oor die kommunikasienetwerk en die mense wat dit bedryf sodat die operateurs se tegnieke verbeter en die netwerk se beperkinge geïdentifiseer kon word.

Later is hierdie wetenskaplike benadering ook deur hooggeplaaste regeringsamptenare in Brittanje, sowel as wetenskaplikes, ingenieurs, wiskundiges, aktuarisse, onderwysers en prokureurs gebruik.

Almal het erken dat, ten einde taktieke en praktyke verbeter, ’n mens betroubare getuienis moet insamel en bepaal of ’n verandering in denkwyse nodig is.

Prof Pretorius se rede het gedemonstreer hoe bedryfsnavorsing besluitneming kan verbeter deur nuwe data, nuwe modelle en nuwe raamwerke te gebruik.

As ’n bedrewe navorser lê sy navorsingsbelangstelling in projekbestuur, veral projekrisikobestuur, bedryfsnavorsingsmetodologie, statistiek, eksperimentering en simulasie.

Hy het BN beskryf as ’n besluitnemingsproses wat die probleem omskryf, na alternatiewe optrede soek, die verskillende alternatiewe evalueer en uiteindelik een of meer hiervan kies. Wiskundige modellering is die sentrale pilaar wat die navorser help om komplekse stelsels te verstaan en stelselprestasie te verbeter.

Meer oor die kundige
Prof Pretorius is deel van die Skool vir Wiskundige en Statistiese Wetenskappe in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die NWU.

Sy navorsingsreis het in 1977 begin toe hy ’n BSc in wiskundige statistiek en wiskundige ekonomie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf het. Dit was ook die tydstip waarop hy met sy akademiese loopbaan begin het.

Nadat hy sy honneursgraad in waarskynlikheidsteorie en lineêre programmering in 1979 met lof verwerf het, het hy ’n junior navorser in die Departement Statistiek en Bedryfsnavorsing geword.

Na ’n ruk in die privaat sektor is prof Pretorius in 1984 as dosent op die kampus in Vanderbijlpark aangestel. In 1987 het hy sy MSc met lof behaal. Hy is in 1999 tot senior lektor en hoof van die Departement Statistiek en Bedryfsnavorsing bevorder – dieselfde jaar waarin hy sy PhD voltooi het.

Hy maak steeds sy dissipline vir sy studente interessant, en dra die boodskap oor dat bedryfsnavorsing oor meer as feite en syfers gaan. Dit is deel van die mens se geskiedenis.

Prof Philip Pretorius.

 

Submitted on Tue, 07/23/2019 - 14:40