Innoverende navorsing beloon NWU-dosent met PhD

Dit was ’n trotse oomblik op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark toe Taty Dekoke, ʼn dosent in Frans, sy PhD in linguistiek en literêre teorie ontvang tydens die herfsgradeplegtigheid wat onlangs op die kampus plaasgevind het.

In sy tesis, The changing language repertoires of Congolese migrants in the Vanderbijlpark, is die komplekse prosesse ondersoek wat ontwikkel wanneer veeltalige migrante van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) na die veeltalige Suid-Afrika migreer.

Tot op hede het studies oor migrasie en taalrepertoire gefokus op kontekste waar eentalige migrante na eentalige lande immigreer waar hulle die dominante taal van die gasheerland aanneem en erfenistale binne drie geslagte nie meer bestaan nie. Wat dr Dekoke se studie so innoverend maak is die feit dat dit data uit ’n konteks waar daar nog min navorsing gedoen is en waar veeltalige migrante na ’n veeltalige gasheerland gaan, bydra.

Die oorkoepelende bevinding van die studie is dat die kennis van meer tale belangrik is vir integrasie; en dat nuwe patrone van taalrepertoires in hierdie superdiverse konteks ontwikkel. Die eksaminators van die tesis het gesê dat dit lig werp op die ingewikkeldhede van taalpraktyke in hierdie komplekse konteks, wat vinnig besig is om die norm in die wêreld te word. Dr Dekoke se studie bied insigte wat wêreldwyd relevant is en dra by tot ’n groeiende kenniskorpus vanuit die suide van die wêreld wat teorieë vanuit die noorde herskryf. Bevindings is reeds by internasionale konferensies voorgedra en in akademiese vaktydskrifte gepubliseer.

Taty Mbaki Dekoke is op 21 Januarie 1967 in Mbanza-Ngungu in die westelike deel van die DRK gebore. Taty het tot en met 1994 sy skoolloopbaan, voorgraadse studies en honneursgraad in die DRK voltooi. Die DRK het gedurende hierdie tyd baie uitdagings ervaar. Tydens die besetting van die land het sy familie in 2003 besluit om die Kongo te verlaat en hulle in Suid-Afrika te verstig. Taty het in 2004 vir ’n meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad ingeskryf, waar hy die didaktiek van uitheemse tale bestudeer het. Sy hoofvak was Frans as uitheemse taal, en hy het Frans by die St. George’s Grammar School onderrig (2005-2011). Hy is in Julie 2011 as dosent in Frans by die NWU se kampus in Vanderbijlpark aangestel.

 

Dr Taty Dekoke saam met sy studieleier, prof Susan Coetzee-Van Rooy.

Submitted on Wed, 06/14/2017 - 15:38