Finalejaarpiekniek: alles was die moeite werd!

Meer as 200 finalejaarstudente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs op die lowergroen walle van die Vaalrivier saamgetrek om saam met vriende te kuier en hulle laaste paar weke op die kampus te geniet voordat hulle gradueer.  

Die finalejaarpiekniek is ’n jaarlikse gebeurtenis wat aan senior studente die geleentheid bied om lekker saam te eet, na goeie musiek te luister, en aan prettige speletjies deel te neem terwyl hulle voorberei om hul laaste eksamen tegemoet te gaan. 

In haar toespraak het prof Linda du Plessis, adjunkvisekanselier vir beplanning en kampusbedrywighede in Vanderbijlpark, die studente op ’n spreekwoordelike nostalgietoer geneem toe sy hulle herinner het aan hulle eerste dag toe hulle by die universiteit aangekom het.

“Julle het ’n paar jaar gelede by die kampus aangekom en nie werklik geweet wat om te verwag nie, en selfs gewonder of julle in hierdie nuwe omgewing die mas gaan opkom, en hier is julle nou! Julle gaan binne ’n paar weke julle handboeke toemaak en eienaarskap van julle kwalifikasies neem,” het prof Du Plessis gesê.

Sy het die studente gemotiveer om toegewyd vir hulle laaste eksamen te studeer en altyd trotse ambassadeurs vir die NWU te bly. Sy het haar toespraak afgesluit deur te sê: “Dankie dat julle in die toekoms glo; en meer nog, dankie dat julle ons help om die droom van die universiteit waar te maak.

“Dit is julle wat ons strewe waar maak om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees, en dit is deur jul prestasies dat ons onsself as ’n bemagtiger van uitnemendheid kan onderskei.”

Volgens Zanele Ngobese, die kampus se alumnikoördineerder, het die funksie ook aan studente die geleentheid gebied om met die Alumnikantoor te skakel om uit te vind wat die lewe ná universiteit inhou.

“Daar is so baie geleenthede om aan gebeurtenisse op en buite die kampus deel te neem, en ek hoop dat ons nuwe gegradueerdes hulle nuwe status as jong alumnilede sal aangryp,” het Zanele gesê.

Hloni Putsoane van die Loopbaansentrum het as deel van die dag se program aan die studente raad oor loopbane gegee, en Mpho Mosia, ’n lid van die kampus se Jong Alumni-groep, het hulle ook toegespreek.


Finalejaarstudente van al die fakulteite het die piekniek langs die Vaalrivier geniet.


Die studente is met ‘n musikale vertoning onder die koeltebome bederf.

 

Submitted on Mon, 11/04/2019 - 12:53