Fempreneurs skitter tydens die EWP-galageleentheid

Dit was ’n aand van feesvier en prestasie toe die Noordwes-Universiteit (NWU) hulde gebring het aan die 2019-klas van die Ondernemende Vroue-program (EWP).

Hierdie toonaangewende entrepreneurskapsontwikkelingsprogram is sewe jaar gelede bekendgestel, en bemagtig vroue regoor die NWU se demografiese voetspoor om selfonderhoudende sake-eienaars te wees.

Daar was deelnemers van twee afdelings van die EWP-program, naamlik van EWP Vanderbijlpark en EWP Sasolburg. ’n Groep van 23 vroue is deur lede van die streek se besigheidsgroepe en die universiteitsbestuur gelukgewens.

“Elke groep EWP-gegradueerdes bevestig net weer die NWU se verbintenis tot maatskaplike responsiwiteit,” sê Johan Landsberg, die bestuurder van die bhive EDC.

Hy voeg by dat die program as afspringplek dien vanwaar fempreneurs die uitdagings wat eie aan hulle is, doeltreffend die hoof kan bied. Hierdie uitdagings sluit hoë vlakke van huishoudelike verantwoordelikheid, ’n gebrek aan selfgelding en selfvertroue, minder besigheidsgeoriënteerde netwerke in hulle gemeenskappe en ’n gebrek aan kapitaal en bates in.

Meer oor die program

Die program word in Mahikeng, Potchefstroom, Sasolburg en Vanderbijlpark aangebied en word deur die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) in Vanderbijlpark bestuur en gekoördineer. Laasgenoemde verteenwoordig ’n dinamiese spil van entrepreneursaktiwiteit in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Volgens Leonie Greyling, die EWP-koördineerder, lê die sukses van die jaarlikse program daarin dat dit intydse sake-ondersteuningsdienste aan vroue gee. Deelnemers word deur ’n omvattende kurrikulum geneem om hulle te help om besigheidsidees en markte te identifiseer, ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie beginneronderneming suksesvol te inisieer. Leonie voeg by dat vroue tydens die proses nie net deel van ’n dinamiese portuurnetwerk word nie, maar ook persoonlike mentorskap van ervare entrepreneurs en kundige akademici ontvang.

“Die program verskaf op die ou einde aan vroue die geleentheid om hulle entrepreneurspogings vryelik te ondersoek, terwyl hulle terselfdertyd deur werkswinkels en groepgesentreerde leeraktiwiteite die voordele van ’n gestruktureerde leerervaring geniet,” sê Leonie.

Van links is Rita Beneke (Golden Triangle Sakekamer), prof Herman van der Merwe (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en Leonie Greyling (bhive EDC) saam met die EWP Vanderbijlpark deelnemers: Dimakatso Ntombela en Kedbone Rabbi. Agter van links is Kerryn Henning, Lorraine Raputsoe, Leana Uys en Lizzie Barnes. Afwesig: Adilla Jooma, Linda Kloppers, Motshidisi Tlali, Silindile Tyani en Tsholofelo Modise.

Van links is Rita Beneke (Golden Triangle Sakekamer), prof Herman van der Merwe (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Leonie Greyling (bhive EDC) en dr Esmé Young (SASOL) saam met die EWP Sasolbug deelnemers: Precious Mochela en Sithokozile Senokwane. Agter van links is: Lerato Sebofe, Reitumetse Mokaba, Nabawiya Rahiman, Angela Bender, Natasha Odendaal, Grace Nobunga, Tebogo Mokholo en Cordelia Dlamini. Afwesig: Diana Mokoena en Michelle Ogle.

 

 

 

Submitted on Wed, 11/13/2019 - 09:33