Fakulteit intervensie slaan eerstejaarspaniek hok

Dit is waar: om ‘n eerstejaarstudent by ‘n universiteit te wees, kan een van die mees opwindende, maar stresvolste oorgange wees wat ‘n jongmens sal ervaar. Dit is daarom bloot natuurlik dat jy dalk oorweldig deur jou omgewing, die verantwoordelikhede wat saam met jou nuwe vryheid kom en die druk wat daarmee gepaard gaan, sal voel.

Met hierdie feit inaggenome, het die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die kampus in Vanderbijlpark ‘n intervensieprogram begin om eerstejaarstudente te bemagtig deur ‘n akademiese en sosiale ondersteuningsnetwerk te ontwikkel.

Die intervensie – gedoop die First Generation Project – is as deel van ‘n loodsprojek geïmplementeer en volgens die koördineerder, Kgomotso Malinga, het die oorweldigende sukses van die projek daartoe gelei dat dit eersdaags op die Mahikeng- en Potchefstroomkampusse gesien kan word.

Die program word bestuur deur die fakulteit se Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur, en het voortgespruit uit die uitkomste van verskeie fokusgroepe wat met die nuwe inname van eerstejaarstudente gedurende die jaarlikse Registrasie, Oriëntasie en Ontvangs (ROO) Week gehou is. Gedurende hierdie sessies het baie nuwe eerstejaarstudente aangedui dat hulle oorweldig voel en dit daarom moeilik vind om hulle weg in hulle nuwe omgewing te vind – beide op sosiale en akademiese vlak.

Volgens Kgomotso het verskeie studente aangedui dat hulle bang is dat hulle sal druip en hulle ouers sal teleurstel. Sommige studente was ook bekommerd oor aspekte soos tydsbestuur, die impak van stres, begrotings en hoe hulle onder druk sal presteer.

Gedurende die verloop van die akademiese jaar is die deelnemende eerstejaarstudente in pare met senior studente in die fakulteit ingedeel vir een-tot-een mentorskapsessies en koffie-kuiers. Hierdie mentors, wat almal lede van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur is, het die eerstejaars van akademiese en sosiale ondersteuning voorsien.

Die fakulteit het onlangs die sukses van die program met ‘n gala-aand gevier, en sertifikate van waardering is aan die mentors en studente oorhandig.

Kgomotso sê die studente het die intervensie waardeer en baat daarby gevind. Sy glo dat die studente nou die eise ten volle verstaan wat saam met universiteitstudent-wees kom. 

“Ons het deur middel van werkswinkels en mentorskapsessies die gaping tussen hoërskool en universiteit oorbrug, en ons eerstejaarstudente met die nodige emosionele reserwes toegerus om die verwante stres te kan hanteer. Nadat hulle deur hierdie vrese en persepsies gewerk het, kan die student nou die universiteitslewe ten volle geniet,” verduidelik Kgomotso.

Meer oor die program

Die volgende onderwerpe is gedurende die jaar deeglik bespreek:

  • Die hantering van mislukking en die aankweek van ‘n positiewe ingesteldheid.
  • Die belangrikheid van effektiewe verhoudingbestuur.
  • Die bestuur van ‘n begroting en finansies.
  • Hoe om kalm te bly en in stresvolle situasies te floreer.
  • Effektiewe tydsbestuur en ‘n werk-lewe balans.

Kgomotso Malinga, die koördineerder van die First Generation Project. Foto: Chilli PicNic

 

Hier is sommige van die senior studente wat as mentors opgetree het. Van links is Ivy Xekwa, Franick Steyn, Chanel Jonker, Lebohang Motsapi, Elrie Tibshraeny, Alexia de Sa, Marilie Viljoen, Jessie Mathope, Marelie Botha en Tiisetso Boikanyo. Foto: Chilli PicNic

Submitted on Tue, 10/29/2019 - 16:03