Die Muffineers geniet die soet smaak van entrepreneurskap

Vir die Muffineers smaak en ruik sukses baie soos botterroom, vanielje, sjokolade en aarbei.

Alumnus Tshepiso Maimane en studente Mohapi Motaung en Thato Moeng van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark is die lewende bewys dat entrepreneurskap ’n lewensvatbare loopbaanopsie vir universiteitstudente en gegradueerdes is.

In 2019 sal dit ses jaar wees sedert Tshepiso, Thato en Mohapi vir die eerste keer hulle voorskote aangesit en ’n baksel kolwyntjies gebak het wat hulle aan die personeel en studente wou verkoop.

Min het hulle geweet hierdie poging om fondse in te samel om hulle studiegeld te help betaal, sal in ’n winsgewende besigheid verander, met kliënte wat van klasmaats en huweliksbeplanners tot kieskeurige koffiewinkels wissel.

Vandag is Tshepiso ’n trotse alumnus van die NWU nadat hy sy BCom-graad in ekonomie en risikobestuur in 2016 en ’n honneursgraad in risikobestuur in 2017 verwerf het. Thato en Mohapi is albei BCom-studente en studeer onderskeidelik bemarking en ekonomie, en risikobestuur. Hulle is beide vanjaar finalejaarstudente.

“Ons omstandighede bepaal nie wie ons is nie”

Die driemanskap het lank gelede besluit dat hulle nie die slagoffers van hulle swak finansiële omstandighede sal word nie.

Toe hulle by die universiteit aankom, kon hierdie drie vriende – wat mekaar as eerstejaarstudente ontmoet het – nie met die geld wat hulle van die huis ontvang het, die mas opkom nie.

Die idee om muffins te bak en te verkoop is tydens ’n gesprek rondom middagete gebore toe hulle nie ’n maaltyd by die kafeteria kon bekostig nie. Volgens Tshepiso het die gesprek gou in ’n dinkskrum oorgegaan om maniere te kry om ekstra geld te maak sodat hulle maaltye kon bekostig.

“Ons het geweet dat ons self iets aan ons situasie moes doen,” verduidelik Tshepiso, en voeg by dat hulle elke idee wat hulle gehad het teen hulle gekombineerde toelaes moes opweeg. Dit was toe dat Thato gesê het hy weet hoe om muffins te bak en die bestanddele relatief goedkoop is. Die drie lag hardop toe hulle hul eerste baksel onthou: 36 kolwyntjies wat hulle kampus toe gebring het om etenstyd saam met hulle vriende te geniet.

Die soet smaak van oorwinning

Dit was nie lank voordat die storie versprei het nie, en die studente het tougestaan om hulle kolwyntjies te koop. “Hulle sê honger is die beste kok,” lag Mohapi, en sê in die Muffineers se geval was honger die dryfveer om hulle die soet smaak van oorwinning te laat proe – letterlik en figuurlik.

Hulle het pligsgetrou elke oggend sesuur opgestaan – ongeag of hulle klas toe moes gaan of nie – om kolwyntjies te bak. The Muffineers verkoop elke week tussen 300 en 500 kolwyntjies en gebruik elke maand 150 kilogram meel, 684 eiers en 32 liter kookolie! Hulle kliënte stem beslis met hulle slagspreuk saam dat die lewe eers begin as jy jou eerste kolwyntjie geproe het.

So brei hulle onderneming uit

Die driemanskap het in 2015 die geloofsprong geneem en hulle onderneming gediversifiseer.

Dit het daartoe gelei dat hulle bestellings vir versierde kolwyntjies en ontwerperkoeke vir spesiale geleenthede soos gradeplegtighede en verjaarsdae geneem het. Hulle toewyding en verbintenis het weer eens dividende afgewerp en hulle koeke is baie gewild.

En wat hou die toekoms vir die Muffineers in?

Die driemanskap stem saam dat hulle onderneming sal voortduur lank nadat hulle as universiteitstudente klaargemaak het. Hulle sal graag wil sien dat dit die vorm van ’n franchise aanneem.

Weer eens bevestig hulle hul standpunt: “Ons sal nooit die slagoffers van ons omstandighede wees nie, maar eerder die oorwinnaars van ons keuses! Ons neem verantwoordelikheid vir ons toekoms en weier om deel van die statistiek van werklose gegradueerdes te word.”

Kliek hier vir ‘n kort video oor hul sukses as entrepreneurs.

Elkeen van The Muffineers het ’n toegewysde taak. Tshepiso (links) hanteer al die administratiewe take, Thato (middle) hanteer die verkope en bemarking van die gebakte lekkernye. Mohapi (regs) is in beheer van die bakery

 

The Muffineers verkoop tussen 300 en 500 kolwyntjies per week.

 

Submitted on Thu, 03/07/2019 - 15:17