Werkloosheid is nou die “wreedste belasting” op ’n kwesbare bevolking

’n Nuwe rekordhoogtepunt (34,4%) in die Suid-Afrikaanse werkloosheidskoers in die tweede kwartaal van 2021 bevestig die vernietigende impak wat die Delta-variant van die koronavirus en die meegaande inperkingsmaatreëls op die ekonomie en die arbeidsmark gehad het.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die vooruitsig vir die arbeidsmark bly swak, aangesien dit duidelik is dat die volle impak op ekonomiese aktiwiteit van die burgerlike oproer laat in Julie eers in die derde kwartaal van 2021 ten volle gevoel sal word.

In sy kommentaar op die jongste kwartaallikse werkloosheidsyfers in die Labour Force Survey vir die tweede kwartaal van 2021 sê prof Parsons dat die totale ekonomiese koste van die onlangse geweld en burgerlike oproer nog nie ten volle na vore gekom het nie.

“In hierdie negatiewe omstandighede is werkloosheid nou inderdaad die ‘wreedste belasting’ op die kwesbare sektore van die bevolking, en is werkskepping steeds ’n topprioriteit.”

Hy wys uit dat daar inderdaad geen vinnige oplossing is nie. “In die lig van die huidige onsekerhede in die ekonomiese vooruitsig gaan die onmiddellike werksituasie waarskynlik erger word voordat dit beter word. Die jongste werkloosheidsyfers stuur nietemin ’n hernude boodskap uit dat die balans tussen lewens en heenkome in die hantering van die pandemie ’n akute dilemma bly wat in die tydperk wat voorlê omsigtig bestuur moet word.”

Prof Parsons sê dat bestaande ondersteuningsmaatreëls vir werk intussen verskerp moet word. “Die werkloosheidsituasie bring ’n dringendheid vir die implementering van die verskeie belangrike bestaande korttermyn- ekonomiese ondersteuningsmaatreëls om van die bestaande probleme wat maatskappye en werkers ervaar wat ekonomies baie erg getref is.” 

Volgens hom beklemtoon dit ook die belangrikheid van die versnelling van die inentingsprogram om ekonomiese herstel te verhaas.

“Bowenal, aangesien die grootste gedeelte van toekomstige werkskepping van die privaat sektor moet kom, moet die sakevriendelike omgewing wat nodig is vir privaat vaste belegging om te floreer, bespoedig word.   Die jongste statistiek toon dat privaat kapitaalvorming baie laag bly en tans onvoldoende is om die baie hoër groei te ondersteun wat Suid-Afrika nodig het.”

Hy sê ten einde die Suid-Afrikaanse ekonomie op ’n baie hoër arbeidsryke groeibaan te kry, is ’n gevoel van dringendheid en konsekwentheid nou nodig om die regte oplossings en hervormings te implementeer wat vereis word om sakevertroue te herstel en beleggings aan te moedig.

Submitted on Wed, 08/25/2021 - 11:20