Skynverhore bied ʼn voorsmaak van maatskaplikewerk-omgewing

“Wanneer jy in hierdie hof instap, is jy op my speelvlak.” Dit is die woorde van mnr Johan van den Berg aan tweedejaar-maatskaplikewerkstudente tydens die jaarlikse skynverhore waar studente ʼn voorsmaak kry van die harde realiteit wat ʼn maatskaplike werker in die hof in die gesig staar.  

Die tweedejaar-maatskaplike werk-groep, saam met dr Elmien Truter en mnr Johan van den Berg (heel regs, voorste ry.)

Johan is ʼn prokureur en familieregskenner by Willem Pretorius Prokureurs in Vanderbijlpark. Dr Elmien Truter, dosent van die tweedejaarklas en ook ʼn praktiserende maatskaplike werker, neem elke jaar die klas na die Vanderbijlpark-kinderhof waar elke student ‘n kans kry om ʼn gevallestudie teen ʼn ervare prokureur te verdedig. 

Johan het die rol vertolk van die verdediging wat die beskuldigde in ʼn regsgedingverteenwoordig waar ʼn kind verwyder is uit omstandighede van misbruik of uiterse verwaarlosing. Die studente het hard gewerk aan hulle voorbereiding vir die saak, maar het steeds naels gekou in afwagting vir hulle onderskeie spreekbeurte.

Ten einde hulle kliënt na die beste van hulle vermoë te verteenwoordig, sal die verdediging in hierdie sake poog om die getuienis van die maatskaplike werker onder verdenking te plaas en tegniese gapings te vind waar die korrekte prosedure nie gevolg is nie. In sulke gevalle kan die mislukte getuienis van die maatskaplike werker beteken dat die kind weer in die sorg van die einste persoon wat hom/haar in gevaar stel, geplaas word, en dit is juis waarom hierdie sessies so belangrik vir studente is.

 Deur aan hierdie realistiese scenario deel te neem, kry studente die kans om hierdie spanningsvolle situasie eerstehands te ervaar. Dit berei hulle ook voor vir die vele hofsake waartydens hulle die enigste stem sal wees wat in die belang van die kind kan getuig.

Die groep het hulle dankbaarheid vir die geleentheid uitgespreek en saamgestem dat hierdie unieke ervaring in ʼn veilige omgewing vir hulle goud werd sal wees in die harde realiteit wat hulle in die praktyk te wagte kan wees. 

Dr Truter is ook deel van ʼn navorsingspan wat die eise van die beroep op maatskaplike werkers ondersoek. Die ondervraging wat hulle in die hof ondergaan, is as een van die stresvolste aspekte van hierdie loopbaan geïdentifiseer.

Submitted on Fri, 09/08/2017 - 13:03