Regter Bess Nkabinde praat oor die veranderende gesig van leierskap

Daar is ’n verskil tussen die lei van verandering en die blote bestuur daarvan. Vra enige leier en hulle sal vir jou sê dat feitlik alle besighede – ongeag die sektor of die bedryf – fundamentele verandering in die gesig staar. Voeg hierby die huidige stand van die ekonomie en die sosio-politieke uitdagings waarmee leiers vandag te doen kry, en dit word duidelik dat verandering ’n nuwe dimensie aangeneem het.

Leiers het te kampe met ’n duisternis komplekse kwessies en dit vereis insigvolle leierskap eerder as net goeie bestuur om sukses en volhoubaarheid te verseker.

Daarmee in gedagte bring die Noordwes-Universiteit (NWU) se leierskapsberaad, wat op 10 Augustus 2017 plaasvind, van Suid-Afrika se briljantste sake- en openbaresektor-denkers bymekaar om hulle insigte en praktyke oor leierskap te deel. Een só ’n leier is regter Bess Nkabinde.

Regter Nkabinde, ’n alumna van die NWU se kampus in Mahikeng, dien as regter van die Konstitusionele Hof van die Republiek van Suid-Afrika. Sy het in 2016 die posisie van waarnemende adjunkregter en waarnemende hoofregter beklee.

Meer oor Bess Nkabinde

Bess Nkabinde-Mmono is in 1959 in Silwerkrans in Noordwes gebore. Sy het in 1979 aan die Mariasdal Hoërskool in Tweespruit (Vrystaat) gematrikuleer en het haar pad na die Konstitusionele Hof begin deur eers ’n BProc-graad by die Universiteit van Zululand te verwerf, gevolg deur ’n LLB by die voormalige Universiteit van Noordwes.

Sy het haar luisterryke loopbaan as staatsregadviseur in die voormalige Bophuthatswana begin, en is in 1988 in Bophuthatswana as advokaat toegelaat. Sy is in 1989 in Suid-Afrika as ’n advokaat toegelaat. Van 1990 tot 1999 het sy as advokaat in die Noordwes-balie gedien en in siviele reg, handelsreg, huweliksreg asook kriminele sake gespesialiseer. In 1994 het sy deel gevorm van die Mpshe-kommissie van ondersoek tydens die opstand van bewaarders by die Mogwase-tronk.

Nadat sy as waarnemende regter van die Hoë Hof (Bophuthatswana Provinsiale Afdeling) en later as regter van die Hoë Hof gedien het, ook in die Bophuthatswana Provinsiale Afdeling, het sy as waarnemende regter van die Arbeidshof in Johannesburg gedien. In die jaar 2003 is sy aangestel om op die spesiale tribunaal oor siviele sake te dien. Voordat sy in 2006 by die Konstitusionele Hof aangesluit het, was sy ’n waarnemende regter van die Arbeidsappèlhof as lid van die subkomitee van die koördineringskomitee vir die regstelsel oor rassisme en seksisme, voorsitter van die Reëlsraad vir Geregshowe, en waarnemende regter van die Hoogste Hof van Appèl.

Meer oor die NWU se leierskapsberaad

Die doel van die NWU se leierskapsberaad is om ’n platform te skep waarvandaan intellektuele kapitaal gedeel kan word en sodoende tot volhoubare en innoverende leierskap in besigheid, die regering en die burgerlike samelewing by te dra. Individue sal deur middel van die beraad die waardevolle geleentheid kry vir direkte interaksie met ander leiers wat op hoogte van ekonomiese en bestuurskwessies is.

 

Opbrengste van die beraad sal gaan aan die Ukuvula-stigting, ’n liefdadigheidsorganisasie sonder winsoogmerk wat gestig is om maatskaplike-ontwikkelingsinisiatiewe te koördineer en befonds. Die stigting se visie van “maak ’n verskil deur gedeelde leer, ontwikkeling en bemagtiging van mense” word onderskryf deur die feit dat die meeste van die hulp wat gegee word in die vorm van beurse vir tersiêre onderwys is. Studente van die NWU sal dus direk by hierdie inisiatief baat.

Vir enige inligting oor die beraad, asook om te registreer, kliek asseblief hier.

* Die beraad vind van 09:00–15:30 by die Birchwood Hotel plaas.

 


Regter Bess Nkabinde.

Submitted on Mon, 07/10/2017 - 11:14