NWU Vanderbijlpark se sokkerspelers domineer B-afdeling by USSA 2017

Die mans- en vrouesokkerspanne van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het die kampus se vaandel hoog gehou tydens die onlangse Universiteitsport Suid-Afrika-kampioenskappe (USSA-kampioenskappe) wat in Johannesburg gehou is.  

Albei spanne het in die B-afdeling deelgeneem en as die trotse afdelingwenners daar weggestap.

Die manspan het die topposisie weggeraap na oortuigende oorwinnings oor Mangosuthu Universiteit van Tegnologie, Universiteit Stellenbosch en Monash. In die eindwedstryd het die ouens in groen die span van Tshwane Universiteit van Tegnologie aangepak. In hierdie wedstryd het NWU Vanderbijlpark twee keer in die eerste helfte doele aangeteken om goud in die B-afdeling te verower, en is tot die gesogte A-afdeling bevorder. Twee spelers, Siyabulela Moisea en Kevan van Niekerk, het onderskeidelik die toekenning as die toernooi se beste doelskieter en beste doelwagter ontvang.

Die mans se sokkeruitslae was soos volg: MUT 0 – 4 NWU Vanderbijlpark, Universiteit Stellenbosch 0 – 2 NWU Vanderbijlpark, Monash 1 – 3 NWU Vanderbijlpark en TUT 0 – 2 NWU Vanderbijlpark.

Die vrouespan het ook die finaal van die B-afdeling bereik na oortuigende oorwinnings oor Tshwane Universiteit van Tegnologie, Sefako Makgatho Gesondheidswetenskappe Universiteit, NWU Mahikeng en Mangosuthu Universiteit van Tegnologie. In die eindwedstryd het die span van Vanderbijlpark Tshwane Universiteit van Tegnologie met vier strafdoele teen drie geklop ná ’n naelbyt-gelykopuitslag van 1 – 1. Individuele toekennings is gemaak aan Tumelo Thebe as die afrigter van die toernooi, en aan Kgomotso Baloi as beste doelwagter.

Die vroue se sokkeruitslae was soos volg: NWU Vanderbijlpark 3 – 1 TUT, Sefako Makgatho Gesondheidswetenskappe Universiteit 0 – 5 NWU Vanderbijlpark, NWU Mahikeng 0 – 1 NWU Vanderbijlpark, NWU Vanderbijlpark 2 – 1 Mangosuthu Universiteit van Tegnologie, NWU Vanderbijlpark 1 – 1 Tshwane Universiteit van Tegnologie (4 – 3 op strafdoele).

 

 

 

Submitted on Thu, 07/27/2017 - 09:24