NWU Vanderbijlpark: alles verloop goed met eerstejaarsregistrasie vir 2018

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark woel en werskaf met talle eerstejaarstudente wat toustaan om vir die 2018 akademiese jaar te registreer.

Die Registrasie- en Oriënteringsprogram (R&O-program) het op Maandag 22 Januarie afgeskop en die kampusgemeenskap het die nuwe inname van eerstejaarstudente met ope arms en warm glimlagte verwelkom.

Op dag een van die program het alle BEd-, BA Regte-, BCom Regte- en BSc-studente geregistreer, gevolg deur die BCom- en BA-studente op onderskeidelik 23 Januarie (dag 2) en 24 Januarie (dag 3).

Terselfdertyd het die nuwe inname eerstejaarstudente aan die hand van die Oriënteringsprogram hulle nuwe omgewing leer ken en hulle plek in die kampusgemeenskap begin vind.   

Volgens mnr Jacob Simango, direkteur vir studentelewe op die kampus, het die R&O-program ten doel om alle eerstejaarstudente voor te berei op hulle oorskakeling na die universiteitslewe sowel as die uitdagings en geleenthede wat voorlê. “Ons vind dat selfs studente wat op hoërskool akademies suksesvol was, soms die oorskakeling na leer op universiteit moeilik vind,” sê Jacob, en voeg by dat die NWU verskeie strukture vir akademiese en persoonlike steun in plek het om seker te maak dat alle studente sukses behaal.

Volgens prof Lumkile Lalendle, uitvoerende direkteur vir studentelewe, verskaf die program aan studente die geleentheid om nuwe strategieë te leer en bemeester om by die universiteitslewe aan te pas. In die verloop van die program sal alle eerstejaarstudente verskeie inligtingsessies en praktiese werkswinkels bywoon wat die NWU se beleide oor tersaaklike kwessies soos die verantwoordelike gebruik van sosiale media, menseregte, geen verdraagsaamheid ten opsigte van ontgroeningspraktyke, en antisosiale gedrag soos seksuele teistering en xenofobie uiteensit.

Die eerstejaars sal as deel van die program ook ’n groot gemeenskapsbetrokkenheidsprojek onderneem. Die volgende organisasies sal by hierdie inisiatief baat: Bophelong-kinderhuis, Ikemeleng-ouetehuis, Kanana-geestesgesondheidsorg, Lapeng-ouetehuis, Kgatliso-kinderhuis, Matwala-kinderhuis, Busy Bee-hospies, Vaal Echoes of Love en die Ikageng Sentrum vir Bejaardes.

Die program loop op Saterdag 3 Februarie ten einde, met die kampus wat sy amptelike verwelkomingseremonie vir die eerstejaarstudente en hulle ouers aanbied.

 

 

 

 

Submitted on Wed, 02/14/2018 - 10:37