NWU takel pandemie op talle fronte

Die ontwrigtende Covid-19-pandemie het beslis nie die navorsers en akademici van die Noordwes-Universiteit (NWU) van koers af gebring nie en hulle wend hulle kundigheid tot voordeel van die samelewing aan.NWU-personeel en -studente is by verskeie pandemieverwante projekte betrokke. Dit wissel van betrokkenheid by gemeenskappe tot die vind van werkbare oplossings in die stryd teen die koronavirus en die siekte wat dit veroorsaak, naamlik Covid-19.

Hierdie is ’n paar van die talle NWU-navorsingsprojekte wat besig is om die siekte die stryd aan te sê.

Ingenieurs wys hulle is opgewasse vir die Covid-19-uitdaging

Die mediesetoestel-ontwikkelingspan in die Fakulteit Ingenieurswese werk saam met ander kundiges om die Suid-Afrikaanse regering te ondersteun.

Die span het kragte saamgesnoer met die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) en die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT). Hulle skakel ook met die Covid Agile Manufacturing Solution Response Team, wat elke dag aanlyn vergader om dringend-noodsaaklike produkte soos persoonlike beskermende toerusting (PPE) te ontwikkel. Prof Leenta Grobler is deel van die beheerkomitee van die oplossingsreaksiespan.

Die ontwikkelingspan vir mediese toestelle, wat deur CP Kloppers gelei word, vervaardig en versprei gesigskerms gratis aan gesondheidswerkers in die gebied rondom Potchefstroom.

Lees meer...

Ingenieurs vind ’n oplossing vir samedromming tydens skoolgebaseerde Covid-19-sifting

Ingenieurs by die Fakulteit Ingenieurswese het ’n siftings- en datavasleggingstel ontwikkel wat samedromming sal voorkom by skoolhekke waar leerders sifting moet ondergaan voordat hulle die perseel kan betree.

Volgens prof Leenta Grobler, projekleier en spesialis in gesondheidsverwante ingenieursinnovasie, behels hulle oplossing die digitalisering van die siftings- en datavasleggingsproses.

Elke persoon kry ’n identifikasieskyfie en alle toegangspunte word met ’n vasleggingstasie toegerus. Hierdie stasie huisves onder andere ’n databasis, ’n skyfieleser, ’n digitale termometer, en ’n eenvoudige gebruikerskoppelvlak wat ’n Android-gedrewe selfoon kan benut. Die toerusting beteken dat baie tyd vir die onderwys- en werksektor bespaar word.

Lees meer...

NWU hoop om die toename in koronavirusinfeksies te keer

Die Afrika-sentrum vir Rampstudies in die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur by die Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe bedryf sedert 3 Maart 2020 ’n multidissiplinêre dinkskrum oor die Covid-19-pandemie.

Die sentrum het die nasionale Departement van Gesondheid geadviseer oor die verklaring van ’n nasionale ramptoestand, die skepping van die Covid-19-WhatsApp-diens, en die opstel van protokolle vir die staat van inperking en vir kwarantynsentrums.

Lees meer...

NWU gaan nuwe Covid-19-toets valideer

Die NWU se kundiges is nadergeroep om met die validering van ’n nuwe toets in die stryd teen die koronavirus te help.

 Daar word verwag dat hierdie SARS-Cov-2- diagnostiese toets, wat deur Austell Pharmaceuticals (Edms.) Bpk. ontwikkel is, resultate vinniger as huidige molekulêr-gebaseerde toetse sal lewer (binne 1,5 uur), en ook baie goedkoper sal wees as die toetse wat tans gebruik word.
Prof Anne Grobler is die hoof van navorsing by Austell Laboratories en ook verantwoordelik vir uitgesoekte spesiale projekte in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.

Lees meer...

NWU help die provinsiale gesondheidsdepartement om Covid-19 hok te slaan

Die NWU help die Noordwes Departement van Gesondheid (NWDvG) om die verloop van die virus in die provinsie te voorspel sodat die provinsiale regering hulpbronne optimaal kan versprei.

Hulle skep ’n gesentraliseerde databasis om gebiede te identifiseer waar simptome duidelik voorkom en is ook besig om skareoplossings te koördineer. Prof Petra Bester, direkteur van die Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR), is die koördineerder van hierdie poging en staan aan die hoof van ’n span kundiges.

Hulle het ook met die Cobuntu-inisiatief begin, wat aan die publiek groter toegang tot PPE gee.

Lees meer, en ook NWU-spanne sit hulp vir NWU Gesondheid aan die gang, en Dis nou die tyd dat JY kan help.

Hoe om voedseltekorte tydens die staat van inperking te help oplos

’n Newemaatskappy van die Fakulteit Ingenieurswese, CFAM Technologies, spesialiseer in ’n proses waarin rou materiaal soos mieliemeel teen hoë druk en hitte in ’n ekstrueerder gekook word om binne ’n paar sekondes ’n gekookte, droë produk te lewer.

Wanneer water of melk by hierdie droë produk gevoeg word, word dit in ’n gebalanseerde maaltyd omskep.

CFAM het ook onlangs ’n kos-kitsbank ontwikkel waar inwoners in die Potchefstroom-omgewing toegang tot ’n sak van hierdie droë pap kan verkry. Hierdie uitvinding is verwelkom deur verskeie organisasies wat gehelp het om mense van kos te voorsien.

Lees meer...

NWU se praktiese chemie-kundiges produseer saniteerders

Vier akademici en twee laboratoriumtegnici by die vakgroep Chemie op die Mahikengkampus produseer saniteerders wat die virus kan neutraliseer en help om die verspreiding van die infeksie te voorkom.

Dr Zimbili Mkhize, prof Lebo Katata-Seru, dr Mduduzi Cele en Sphelele Sosibo, saam met die laboratoriumtegnici Murendeni Ravele en Michael Nengwekhulu, staan aan die voorpunt van hierdie inisiatief.

Lees meer...

Yabelana verbind gemeenskappe aan noodsaaklike dienste

Yabelana, ’n baanbreker-eGidsstelsel, help gemeenskappe regoor die land om te identifiseer watter dienste gedurende die staat van inperking beskikbaar was of nie.

Yabelana is die eerste pasgemaakte inligtingdeel-stelsel van sy soort in die land. Diensverskaffers plaas inligting op die Yabelana-app en stel gebruikers in staat om dienste in hulle spesifieke omgewing te identifiseer.

Dit is ’n produk van die we-DELIVER-projek wat deur prof Vera Roos gelei word en deur die Optentia-navorsingsfokusarea op die Vanderbijlparkkampus gehuisves word.

Lees meer...

Submitted on Tue, 06/30/2020 - 09:30