NWU-parasitoloog vir navorsingsuitnemendheid vereer

Edward Netherlands is ’n inspirerende navorser wat voortdurend die grense van bestaande wetenskaplike kennis uitdaag. Daardeur baan hy dapper nuwe weë vir toekomstige geslagte navorsers om na te volg.

Tydens die jaarlikse Nasionale Navorsingstigting (NNS) se toekennings vir uitnemendheid het Edward die gesogte toekenning vir navorsingsuitnemendheid aan volgendegeslag-navorsers ontvang. Die toekenningseremonie het in Port Elizabeth plaasgevind en vele van Suid-Afrika se topnavorsers was teenwoordig.

As kundige in parasitologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is Edward, wat tans met sy PhD besig is, gewoond daaraan om op sy kundigheidsgebied akademies vereer te word.

Sy baanbrekerswerk oor ekologie, sistematiek en evolusionêre biologie van paddabloedparasiete in Suid-Afrika het tot verskeie publikasies in internasionale vaktydskrifte gelei. Hy het sy bevindings by nasionale en internasionale konferensies voorgedra, asook die heel eerste tweetalige veldgids oor die paddas van Zululand gepubliseer.

Edward het vele prestasies agter sy naam – hy het in 2014 die S2A3-medalje vir die beste meestersgraadtesis in die dissipline van omgewingswetenskappe, asook die Junior WO Neitz-medalje vir die beste MSc-tesis in parasitologie in Suid-Afrika ontvang.

Die fokus van Edward se navorsing

Volgens Edward is die doel van sy werk om die diversiteit, die lewensgeskiedenis en die gasheerparasiet- en vektorinteraksies van bloedparasiete te bepaal. Daarbenewens bestudeer hy die gebruik van paddabloedparasiete as potensiële bio-aanwysers van die gesondheid van die ekostelsel.

Hierdie verskillende bloedparasiete is nou verwant en het soortgelyke lewensiklusse as die parasiete wat menslike malaria, filariase, en Afrika-tripanosomiase/slaapsiekte veroorsaak.

Hoewel die gasheerdiere van hierdie parasiete nie dieselfde dodelike simptome as mense toon nie, sal hierdie navorsing help om die komplekse legkaart van die evolusie van hierdie mikroskopiese dog ekonomies- en ekologies-belangrike organismes aanmekaar te sit.

Edward is ’n trotse alumnus van die NWU en het sy BSc in plantkunde en dierkunde, asook sy honneurs- en meestergraad, aan hierdie instelling verwerf. Hy is tans besig met die voltooiing van sy PhD aan die NWU se Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur.

Meer oor die toekennings

Die NNS-toekennings vier voorste navorsers op hulle onderskeie gebiede op grond van evaluering deur hulle eweknieë en volgens internasionale beste praktyk. Die werk van hierdie navorsers word onder andere na aanleiding van hulle bydrae op die studiegebied en hulle fokus op gehalte en impak geëvalueer.

Die toekennings is ook daarop gemik om die voortgesette kultuur van die bevordering van Suid-Afrika se kennisekonomie en tegnologiese innoverendheid te inspireer en aan te moedig deur diegene te beloon wat van navorsing gebruik om die mensdom te bevorder en verbeter maak.

Volgens dr Molapo Qhobela, hoof uitvoerende beampte van die NNS, erken en vier hierdie toekennings die pogings van daardie buitengewone vroue en manne wat deur hulle werk kennis bevorder, lewens transformeer, en ’n nasie inspireer.

“Hulle is die manne en vroue wie se werk help om Suid-Afrika in ’n kennisintensiewe samelewing te transformeer waar almal billike voordeel uit wetenskap en tegnologie trek. Hulle is deurslaggewend in die bereiking van die NNS se verbintenis om wetenskap tot voordeel van die samelewing te bevorder.”

 

Submitted on Fri, 10/12/2018 - 12:22