NWU ondersteun geestesgesondheid elke tree van die pad

Die kampusgemeenskap van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs die stapskoene vasgemaak en so aan ‘n oproep om deel te wees van die kampus se eerste bewusmakingspretloop ten bate van die bevordering van geestesgesondheid.

Die dag, aangebied deur die kampus se alumni-kantoor en gesondheidsorgsentrum, het meer as 100 atlete verwelkom tydens ʼn pretloop om bewustheid van geestesgesondheid te skep.

Deelnemers het lede van die NWU se alumnigemeenskap, huidige studente en inwoners van die wyer Vanderbijlparkarea ingesluit. Die doel van die dag was om ʼn boodskap van hoop en ondersteuning oor te dra, maar ook om die publiek aangaande die impak van geestesgesondheid op indiwidue, gesinne en die gemeenskap, in te lig.

Volgens Mapeete Rasoaisi, bestuurder van die kampusgesondheidsentrum, het die 10 km pretloop die bemagtigende krag van aktiewe ondersteuningsnetwerke gesimboliseer. Sy het verder verduidelik dat die skokkende Suid-Afrikaanse statistiek van 23 selfdoodgevalle per dag (volgens die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid) net met voortgesette mobilisering, pro-aktiewe verspreiding van hulpbronne, toenemende toegang tot behandeling en die normalisering van geestesgesondheidsdiskoers in die samelewing, die hoof gebied kan word.

Deur middel van die pretloop, het die NWU in samewerking met die Vanderbijlpark, die eerste tree gegee ten einde die kwessie van geestesgesondheid op die sosiale agenda te plaas.

Volgens Zanele Ngobese - alumnikoördineerder, is lede van die alumnigemeenskap trots om terug te gee deur hulle ondersteuning aan hierdie tipe geleenthede te bied.

“Die studentelewe kan stresvol wees. Soveel te meer as ʼn student deur geestesgesondheidkwessies uitgedaag word. As studente het ons alumni by die dienste en hulpbronne van die gesondheidsorgsentrum baatgevind, daarom weet hulle uit persoonlike ervaring watter waarde dit tot die kampusgemeenskap toevoeg, “ sê Zanele. Sy voeg by dat die deelname van hierdie studente en alumni, spesifiek hulle toewyding om ander te help, getuig van die sorgsaamheidetiek by die universiteit.

*Statistiek uitgereik deur die South African Depression and Anxiety Group, dui daarop dat soveel as een uit ses Suid-Afrikaners van angs, depressie of drank- en dwelmmisbruik – dit sluit nie ernstiger toestande soos bipolêre gemoedsversteuring of skisofrenie in nie.

Meer as 100 atlete het die pad gevat ter ondersteuning van die NWU Vanderbijlipark se eerste geestesgesondheidbewustheidspretloop

 

Submitted on Wed, 03/20/2019 - 09:21