NWU-navorsers kry befondsing vir bekamping van groot bedreiging

ʼn Portefeulje van kliniese navorsingsprogramme word in die vooruitsig gestel met die potensiaal om wetenskaplike begrip te verbeter van wat na verwagting die algemeenste oorsaak van dood in SA gaan word – nieoordraagbare siektes (NOS'e). Navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat kardiovaskulêre siektes en hul risikofaktore bestudeer, het pas beduidende befondsing ontvang om hierdie groot risiko te help verminder.

Volgens ʼn verklaring deur die Suid-Afrikaanse Mediese Raad sal die behandeling van kanker, hartsiekte, diabetes en niersiekte ook aandag kry binne hierdie program.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie voorspel dat NOS'e teen 2030 die algemeenste oorsaak van dood in Afrika sal wees; daarom het ʼn openbare-private samewerking tussen die Verenigde Koninkryk (VK) en Suid-Afrika meer as R80 miljoen in Suid-Afrika se mediese navorsingskapasiteit belê. Hierdie inisiatief van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR), GlaxoSmithKline en die Newton Fund via die VK se Mediese Navorsingsraad sal ook vaardigheidsoordrag aan klinici en akademici bied wat befondsing ontvang via die netwerk.

Dr Mark Palmer, direkteur vir internasionale strategie in die VK se Mediese Navorsingsraad het gesê: “Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is NOS'e verantwoordelik vir 38 miljoen sterftes per jaar, met bykans driekwart van hierdie sterftes – oftewel 28 miljoen – wat in lae- en middelinkomstelande plaasvind. Dit is duidelik dat die probleem van NOS'e ʼn wêreldwye respons vereis. Hierdie samewerking tussen GSK en uitstekende akademiese wetenskaplikes van die VK en Suid-Afrika maak deel uit van die MNR se internasionale poging om kundigheid en hulpbronne te poel en navorsing op te lewer wat ʼn wesenlike verskil maak in die bekamping van hierdie siektes.”

“Volgens navorsing wat gedoen is by die SAMNR is nieoordraagbare siektes nou die vernaamste groep oorsake van sterftes in Suid-Afrika – verantwoordelik vir bykans 40% van die totale aantal sterftes en een uit elke drie sterfgevalle vóór die ouderdom van 60 jaar,” sê prof Glenda Gray, president en HUB van die SAMNR. Gray: “Ons ammunisie in hierdie stryd is ons mediese navorsing.”

Die NWU se navorsers wat R9 miljoen se befondsing ontvang het deur hierdie inisiatief is op ʼn pad om nuwe insigte by te dra in NOS'e deur die navorsing oor kardiovaskulêre siektes. Volgens prof Alta Schutte, direkteur van die MNR Eenheid vir Hipertensie en Kardiovaskulêre Siektes aan die NWU, kan die toename in die voorkoms van kardiovaskulêre siektes en hipertensie in Afrika waarskynlik toegeskryf word aan ʼn kombinasie van faktore soos snelle verstedeliking, abnormale natriuminname, verhoogde vaskulêre weerstand en arteriële styfheid.

“Die gebrek aan bewustheid, onderdiagnosering en ondoeltreffende behandeling van hipertensie in die algemeen, maar veral by Afrikane, lei tot ernstige komplikasies soos beroerte, hartsiektes en niersiektes. Ons studie is daarop toegespits om vroeë merkers of voorspellers vir die ontstaan van kardiovaskulêre siektes by swart Suid-Afrikaners te identifiseer,” sê Schutte. “Slegs die identifisering van sodanige merkers as potensiële siftingsindikatore, -voorspellers of -teikens vir intervensie sal dit vir ons moontlik maak om op ʼn jonger ouderdom suksesvolle voorkomingsprogramme by Afrikane te implementeer,” aldus Schutte.


Prof Alta Schutte, direkteur van die MNR Eenheid vir Hipertensie en Kardiovaskulêre Siektes aan die Noordwes-Universiteit

 

Submitted on Wed, 03/08/2017 - 08:29