NWU gaan gasheer wees vir bekroonde geskiedkundige en dekolonisasie-kundige

Die vakgroep Geskiedenis in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Sosiale Wetenskappe gaan in Mei vir prof Sabelo Ndlovu Gatsheni van Unisa gasheer speel.

Tydens sy besoek aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark sal prof Gatsheni as gasdosent vir huidige Geskiedenis-studente optree, asook ’n openbare lesing hou. 

Tydens die lesing aan die studente sal die kundige oor twee van sy gepubliseerde werke praat, naamlik: Empire, Global Coloniality and African Subjectivity, en Coloniality of Power in Postcolonial Africa. Die openbare lesing sal nie slegs vir die universiteit se akademiese gemeenskap wees nie, maar ook vir lede van die groter gemeenskap wat belangstel.

Die gebeurtenisse sal onderskeidelik op 7 en 9 Mei plaasvind.

Meer oor die kundige

Prof Gatsheni werk as die hoof van die Archie Mafeje Navorsingsinstituut (AMRI) en is ’n professor in die Departement van Ontwikkelingstudies by Unisa. Die werk wat by AMRI gedoen word, word deur dekoloniale denke en dekoloniale teorieë gerig, en prof Gatsheni maak van dekoloniale denke gebruik om oor ontwikkeling as ’n idee, diskoers en praktyk na te dink.

Prof Gatsheni het as ’n akademiese vakkundige verskeie kwalifikasies, insluitende ’n BAHons in geskiedenis, ’n MA in Afrika-geskiedenis en ’n DPhil in geskiedenisstudies verwerf. Hy het ook ’n voorgraadse diploma in tersiêre onderwys en ’n sertifikaat in navorsingsupervisie behaal.  

Hy het reeds meer as 40 eweknie-beoordeelde artikels in nasionale en internasionale vaktydskrifte, soos African Affairs, Third World Quarterly, en Round Table: International Journal of Commonwealth Studies and Development Southern Africa, gepubliseer.

Met meer as 15 jaar se onderrigervaring as ’n universiteitskundige het prof Gatsheni tot meer as 25 hoofstukke in akademiese boeke bygedra, en meer as 40 navorsingsreferate by internasionale konferensies in die Verenigde Koninkryk, Nederland, Duitsland, Zimbabwe, Kanada en Finland gelewer.

Hy het drie geslaagde boeke geskryf: The Ndebele Nation: Reflections on Hegemony, Memory and Historiography, Do ‘Zimbabweans’ Exist? Trajectories of Nationalism, National Identity Formation and Crisis in a Postcolonial State, en Coloniality of Power in Postcolonial Africa: Myths of Decolonization. Hy was ook mederedigeerder van die boek Redemptive or Grotesque Nationalism? Rethinking Contemporary Politics in Zimbabwe.

Prof Gatsheni het geskiedenis aan die Universiteit van Zimbabwe, die Midlands State Universiteit, die Monash Internasionale Universiteit en die Oop Universiteit in die Verenigde Koninkryk gedoseer. Hy het in 2010 ’n senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge geword.
 

Submitted on Thu, 02/14/2019 - 10:40