NWU AVK moedig die viering van vroue aan

Ter viering van Vrouemaand, deel prof Linda du Plessis, die Noordwes-Universiteit (NWU) se adjunk-visekanselier vir kampusbedrywighede in Vanderbijlpark, die volgende boodskappe met Suid-Afrikaanse vroue – jonk en oud:

Corazon Aquino is in 1933 in die Filippyne gebore. Sy was met senator Benigno Aquino getroud wat in die vroeë 1980’s deur ʼn sluipmoordenaar vermoor is. Ná haar man se dood het sy besluit om in die volgende presidensiële verkiesing in 1985 te staan. Haar teenstander was niemand anders as President Marcos nie, ‘n diktator wat waarskynlik vir haar man se sluipmoord verantwoordelik was.

Marcos het gewen te midde van vermoedens van verkiesingsbedrog. Aquino het haarself tot die mense gewend om Marcos se bewind deur vreedsame burgerlike verset teen te staan. Met die ondersteuning van die Katolieke kerk en die afvallige gewapende magte van die Filippyne is Marcos ná 21 jaar se skrikbewind ontsetel en het Aquino haar plek as eerste vroulike president van die land ingeneem.

Corazon, of Cory soos wat mense met liefde na haar verwys het, was ʼn self-verklaarde “gewone huisvrou” en word tot vandag nog onthou as die moeder van demokrasie in Asië. Sy was die leier van die mees suksesvolle vredesrevolusie teen ʼn diktatoriale regime wat sonder enige bloedvergieting plaasgevind het. Tydens haar termyn het sy die implementering van die 1987-Grondwet gelei wat die mag van die Presidentskap beperk het en ʼn kongres aangestel het.

Haar administrasie het burgerregte, menseregte en sosiale geregtigheid altyd eerste gestel. Hoewel sy nooit haar regsgraad voltooi het nie, het sy ses tale gepraat en is sy met vele toekennings vereer, onder andere Time Magazine se Vrou van die Jaar en 16 eredoktorsgrade. Ná haar afsterwe het die boodskappe van meegevoel uit alle oorde ingestroom, en selfs die kinders van voormalige president Marcos het haar begrafnis ter eerbetoon bygewoon.

Op Vrouedag kan ons soveel lesse leer uit die lewens van uitstekende vroue soos Cory Aquino. Eerstens – as vroue, moet ons ophou om onsself as magteloos te ag in omstandighede wat teenstrydig met ons waardes is. Wanneer ons opstaan vir dit wat reg is, sal ons vind dat ons ʼn stem gee aan die gevoelens van soveel ander. Tweedens kan ons leer dat deur vroue wat opstaan vir dit wat reg is te ondersteun, ons ‘n verskil kan maak en ware verandering op ʼn groter skaal kan meebring. En derdens: elke vrou kan ʼn verskil maak, hetsy tuis of by die werk. Dit is nie jou posisie nie, maar jou oortuigings wat jou definieer.

Mag ons elkeen op hierdie Vrouedag en in Vrouemaand werklik die vroue in ons lewens vier. Mag jy as vrou jou waarde besef en vorentoe tree vir dit wat reg is.

Prof Linda du Plessis

 

#NWUVroue

 

Submitted on Fri, 08/17/2018 - 08:52