Niks vaal aan alumna Ane!

Deelnemers aan die gesogte Mnr en Mej Vaal skoonheidskompetisie het onlangs tydens dié spoggeleentheid op die rooi tapyt geskitter.

Die aand het egter aan Ané Oosthuysen behoort, ‘n honneurstudent verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark. As die nuutgekroonde Mej Vaal, wag ‘n besige jaar op dié donkerkop alumna.

Vir Ané, wat vroeër in die jaar haar BA-graad in Sielkunde en Sosiologie met lof verwerf het, is 2019 voorwaar ‘n jaar vol hoogtepunte. Nie net is sy as die mooiste meisie in die streek gekroon nie, sy is ook as een van die top 40 finaliste in die gesogte Sarie Voorbladgesig-kompetisie aangewys.

Meer as net ‘n mooi gesiggie

“Ek weet almal het ‘n mening oor skoonheidskompetisies en dat hierdie menings nie altyd baie vleiend is nie,” sê Ané. Sy sê dat hierdie kompetisies lank nie meer net gaan oor fietse lyfies en mooi gesiggies nie. Sy vertel dit verg harde werk, opoffering en baie deursettingsvermoë.

Ané het besluit om in 2015 “in alle erns” op haar modelloopbaan te fokus en het by Models Unlimited in Vanderbijlpark aangesluit. Sedertdien het sy reeds verskeie kursusse voltooi en het sy haarself ook as ‘n model afrigter bekwaam.

Op die vraag waarom sy aan die skoonheidskompetisie deelgeneem het, antwoord Ané dat dit reeds vir ‘n geruime tyd ‘n droom van haar was. Sy wil ook ‘n verskil maak in die gemeenskap en haar titel sal in hierdie verband vir haar baie deure oopmaak.

“Ek het twee jaar terug ook ingeskryf, en het onder die top-agt geëindig. Dit was egter nie vir my beskore nie, en ek het geweet ek sal in die toekoms weer probeer,” sê sy.

“Ek is passievol oor my gemeenskap, en ek weet dat ons saam ‘n groot verskil kan maak. Dit is dan ook my doel vir hierdie jaar, om soveel as moontlik gemeenskapsprojekte aan te pak en ‘n pad te stap saam met my mede Vanderbijlparkers,” vertel Ané opgewonde.

Iets waaroor sy baie sterk voel is die opheffing van kinders en sy verduidelik dat sy as ‘n student in sielkunde besef watter groot impak positiewe rolmodelle op jong kinderlewens het. Met dit in gedagte gaan sy veral na organisasies sonder winsbejag uitreik.

 

Ané Oosthuysen.

Ané tydens haar gradeplegtigheid vroeër vanjaar. By haar is haar ma Annelise, haar broer Westiaan en haar pa Dennis.

 

 

 

 

Submitted on Fri, 10/11/2019 - 08:17