Navorsing is haar passie, en innovasie haar tweede natuur

Google het net 0,50 sekondes nodig om te reageer op die soekterme “Verona Leendertz”. Uit dié resultate is dit duidelik dat prof Verona Leendertz passievol is oor professionele ontwikkeling – hetsy haar eie is as kundige op die gebied van opleiding en ontwikkeling in hoër onderwys, of die kweek van toekomstige navorsers in die Noordwes-Universiteit (NWU) se TELIT-SA-fokusarea.

TELIT-SA is die eksplorasiekern vir toegewyde navorsing oor die teorie en praktyk van leertegnologieë in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Die doel van hierdie innovasie-entiteit is om die NWU se toewyding tot uitnemendheid in vernuftige leer- en onderrigpraktyke en die doen van baanbrekernavorsing te ondersteun en te help realiseer. Kortom: vir die skep van tegnologiemoontlikhede wat die tradisionele onderskeid tussen leer oor tegnologie en leer met tegnologie sal laat vervaag.

Verona: ’n opvoeder in haar wese
Verona beskryf haarself as hardwerkend, selfgedrewe en ’n kritiese denker, en haar persoonlike en professionele prestasies tot dusver onderskryf hierdie beeld wat sy van haarself het.

Sy het in Pacaltsdorp grootgeword – ’n voormalige sendingstasie wat aan George in die Wes-Kaap grens, en was die jongste van ses kinders. Nadat sy in 1994 haar onderwysdiploma aan die Bellville Onderwyskollege voltooi het, het sy teruggekeer huis toe om amper 17 jaar lank wiskunde en tegnologie by Pacaltsdorp Laerskool te gee.

Verona glo vas aan die fundamentele waarde van onderwys en sy het haar verder op akademiese gebied bekwaam en as gegradueerde by die NWU-alumnifamilie aangesluit, met verskeie grade agter haar naam.

Vir haar meestersgraad (2008 - 2010) het sy navorsing gedoen as deel van ’n grootskaalse internasionale studie oor die integrasie van tegnologie in die onderrig van wiskunde.  

Sy het by haar passie vir wiskunde-onderrig gehou en in 2013 haar doktorsgraad verwerf nadat sy daarin geslaag het om riglyne te ontwikkel vir die professionele ontwikkeling van wiskunde-onderwysers om tegnologie in hulle onderrig- en leerpraktyke te integreer. ’n Hoogtepunt op hierdie stadium was haar deelname aan die PhD-uitruilprogram met die Universiteit van Oos-Finland, waar sy in 2012 op die gebied van rekenaarwetenskap gestudeer het.

Die begin van haar reis as ’n NWU-kundige
Ná haar tyd as postdoktorale genoot in Finland het Verona by die NWU se kampus in Vanderbijlpark aangesluit as ʼn dosent in die destydse Fakulteit Ekonomiese en Inligtingswetenskappe én ’n akademiese adviseur by die kampus se Sentrum vir Onderrig en Leer.

Sy verduidelik dat sy as ’n tegnologiegeoriënteerde dosent spoedig gevind het dat sy navorsing doen op maniere wat tegnologie in die leerproses inkorporeer. Met een so ’n projek is ’n statistiekspeletjie ontwikkel om studente te help om die konsepte van statistiek te verstaan, met voorbeelde wat meer kontekstueel is as wat studente in hulle daaglikse lewens ervaar.

Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Verona het haar voete gevind as navorser by TELIT-SA onder leiding van haar mentor, prof Seugnet Blignaut, en sy was op pad om haar passie vir die naatlose integrasie van tegnologie en die ontwikkeling van toerusting vir onderrig en leer te ontwikkel.

Vandag, as hoof van TELIT-SA, leef sy die droom uit om baanbrekernavorsing te doen om innoverende onderrig en leer met tegnologie deur interdissiplinêre samewerking en vakkundigheid daar te stel. En hoe kry sy dit reg? Deur ’n bemagtigende, kultureel-sensitiewe, diverse omgewing te skep wat geleenthede verskaf om vertroue, wedersydse respek en sorg te vestig om uitnemendheid in navorsing te verkry.
 
Prof Verona Leendertz.

#NWUWomen

Submitted on Mon, 08/26/2019 - 12:01