Navorser verseker ’n plek vir parasiete op die rooilys vir bedreigde spesies

Parasiete. Net die noem daarvan kan vir ’n mens rillings langs jou ruggraat af gee, en beelde optower van organismes wat vinnig voortplant en ander spesies opvreet en vernietig. ’n Gevierde navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) hoop om hierdie persepsies te verander.

Prof Nico Smit, wat bekend is daarvoor dat hy ’n baie belangrike rol speel om parasiete wêreldwyd te bewaar, is by die NWU se Waternavorsingsgroep by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe betrokke. Sy doelwit is om te verseker dat van die parasiete wat op bedreigde spesies aangetref word, nie deur dieselfde lot as hulle gashere – naamlik uitwissing – getref word nie.

“Nie alle parasiete is nadelig vir hulle gashere nie. Die meeste speel ’n belangrike rol in ’n goed funksionerende ekostelsel en is noodsaaklik vir die voedselketting, asook vir die gesondheid van diere,” sê hy. Dit sluit egter nie parasiete in wat ’n ongunstige mediese of veeartsenykundige effek het, of wat die voortbestaan van bedreigde spesies bedreig – byvoorbeeld bilharzia of malaria – nie.

Prof Smit se resumé in parasitologie is indrukwekkend, en bevat ’n magdom wetenskaplike prestasies en bydraes op die gebied van dierkunde. Hy kan daarmee spog dat drie spesies parasiete* (twee isopode en ’n platwurm) na hom vernoem is, en dat hy tydens sy roemryke loopbaan meer as 80 nuwe parasietspesies beskryf het.

Hy is onlangs as lid van die kommissie vir die bewaring van spesies (die SSC) van die internasionale unie vir natuurbewaring (International Union for Conservation of Nature, IUCN) verkies. As deel van hierdie kommissie en spesifiek van sy parasietspesialisgroep, speel hy ’n integrale rol om bedreigde parasiete te red.  

Sy werk in die groep se werkkomitee is om die verslae van plaaslike en internasionale navorsers oor diere en ander spesies te evalueer. Dit word gedoen om te bepaal of hulle bedreig is en in watter kategorie van die rooilys hulle geplaas moet word.

Hoe gaan parasiete by hierdie evaluerings baat? “Parasiete word op alle lewende wesens aangetref, meestal in ’n simbiotiese verhouding. Indien ’n dier naby uitwissing is of bedreig word, beteken dit dat hulle gasheerspesifieke parasiete (dié wat slegs op daardie spesifieke dier leef) ook bedreig is word. As hulle gasheer sterf, sterf hulle ook.”

Bedreigde spesies staan gewoonlik eerste in die ry vir navorsingsbefondsing. Prof Smit sê die status van die gasheer sal bepaal of ’n parasietspesie ook voorkeur vir navorsingsbefondsing ontvang – wat ook die bewaringspogings en navorsing vir daardie spesifieke spesie bevorder.

Meer oor die IUCN SSC

Die IUCN SSC is ’n wetenskapgebaseerde netwerk met lede regoor die wêreld. Hulle vernaamste doelwit is om inligting oor biodiversiteitbewaring aan die IUCN te verskaf. Dit sluit die inherente waarde van spesies, hulle rol in die gesondheid en funksionering van die ekostelsel, die verskaffing van dienste aan die ekostelsel en hulle bydrae tot die lewensbestaan van die mens in. Hierdie inligting word verwerk en op die IUCN se rooilys van bedreigde spesies geplaas.

Prof Smit sê die rooilys-bewaringstatus van ’n spesie hang van verskillende kriteria af, onder andere hulle getalle en waar hulle aangetref word. Die spesie word geëvalueer en gekategoriseer as kritiek bedreig, of bedreig, of word in minder ernstige kategorieë soos byna-bedreig geplaas.

’n Verfrissende IUCN-projek

Prof Smit sê hulle het reeds befondsing van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang vir ’n groot projek om spesies vir die IUCN te evalueer. “Ons is tans besig met die ‘Refresh’-projek, wat ook kollegas van ander universiteite insluit, en ons evalueer alle varswaterspesies, insluitende slakke, visse en parasiete. Die NWU-spanne fokus spesifiek op slakke en parasiete.”

Die projek is die heel eerste een nog ooit wat parasiete insluit, sê hy. “Ons het reeds begin om bevindings te publiseer. Die projek het verlede jaar vir ’n driejaartydperk begin en sal aanvanklik bedreigde visspesies (en hulle parasiete) in die Wes-Kaap behels. Dit is nog ’n stap om ’n bewustheid te kweek vir die belangrikheid van parasiete en die noodsaaklike rol wat hulle vervul.”

*Die eerste twee spesies, Lobothorax nicosmiti van Indië, en ’n vrylewende isopode, Metacirolana nicosmiti, van Fidji, is isopodes, wat ook klein skaaldiere kan insluit. Die derde is ’n platwurm, Neofibricola smiti, van Afrika.

Prof Nico Smit

Submitted on Wed, 06/14/2023 - 10:25