Maak ’n buiging, Grafiese Ontwerp, julle het ons – weer eens – trots gemaak

Dit wil voorkom of die vakgroep Grafiese Ontwerp by die Noordwes-Universiteit (NWU) nie aan uitnemendheid kan ontsnap nie – hulle reputasie vir die ontvangs van toptoekennings in nasionale en internasionale kompetisies is welverdiend.

Hulle gaan steeds voort met hulle wenlopie in die topposisies van die amptelike ranglyste van die Loeries vir Afrika en die Midde-Ooste wat onlangs vrygestel is. Hierdie ranglyste het die NWU onder die topvier opvoedkundige instellings vir 2023 geplaas.

Die NWU se Grafiese Ontwerp-vakgroep het ook ’n eerste plek behaal in die kategorie vir die topstudent, met Tamara Kirsten in die eerste plek, en ’n tweede plek in die kategorie vir topdosent vir die dosent Marina Herbst. Nog ’n groot prestasie is dat die alumnus Izabel Barkhuizen ’n dertiende plek onder illustreerders in die bedryf behaal het.

Prof Dumi Moyo, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, sê dat Grafiese Ontwerp een van die fakulteit se vlagskipprogramme is.

“Ek is elke jaar baie trots wanneer ons personeel en studente die topposisies by die gesogte Loeries behaal. Die jongste ranglyste en die toekennings wat ons personeel en studente behaal het, demonstreer duidelik ons uitnemendheid en leierskap op hierdie gebied, en die geweldige bydrae wat ons ten opsigte van die ontwikkeling van talent van wêreldgehalte op die gebied van handelsmerkkommunikasie maak.”

Prestasie is ’n spanpoging

“As vakgroep is ons baie bly om te sien hoe die NWU, ons studente en dosente weer eens vaar op die gesogte ranglyste, wat op 30 Januarie vrygestel is. Om oorkoepelend vierde in die kategorie vir top- opvoedkundige instellings geplaas te word, toon dat die NWU hom op hierdie gebied onderskei,” sê Marina.

“Die inspanning, vaardigheid en moed van ons dosente en studente kom duidelik na vore wanneer ons internasionale erkenning ontvang as ’n graadprogram wat gehalte nastreef.” Sy sê dat hulle met toewyding studente oplei om die beste te wees waartoe hulle in staat is. “Dit is geweldig bevredigend om te weet dat ons alumni ’n opskudding in die bedryf veroorsaak, en dat hulle NWU Grafiese Ontwerp se naam in hulle loopbane hoog hou.”

Dit is baie vervullend en lonend vir Marina dat sy in die afdeling vir dosente die tweede plek behaal het. “Dit gee vir my die selfvertroue om hierdie wonderlike werk voort te sit wat ons met die studente doen. Elke enkele een van ons dosente het die sukses van ons studente moontlik gemaak – hulle het almal baie hard aan die studente se reis gewerk.”

Studente ontvang erkenning vir uitnemendheid

Die gegradueerde Tamara Kirsten sê om erkenning soos hierdie te ontvang, is baie bevredigend. “Dit is ’n wonderlike gevoel, en ek is werklik dankbaar teenoor die Loeries wat vir ons so ’n platform verskaf. Dit is wonderlike blootstelling aan die bedryf, veral as jy so pas met jou loopbaan begin het. Die dosente by Grafiese Ontwerp is absoluut wonderlik. Nie alleen moedig hulle ons aan om aan die Loeries deel te neem nie, maar hulle lei ons op elke tree van die pad.”

Om eerste geplaas te word in die studente-afdeling bou voort op Tamara se prestasie by die toekennings. Sy het tydens die jaarlikse Loerie-toekennings ’n goue Loerie-toekenning in die kategorie vir die ontwerp van logo’s en identiteitsprogramme (Design for Logo and Identity Programmes) in die studente-afdeling, asook ’n vernufsertifikaat (Craft Certificate) vir illustrasie gewen. Dit was vir haar projek vir die logo-ontwerp en identiteitsprogram vir Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke).

Alumnus skitter in die bedryf

Izabel het aan Inverroche se Bee&Bee-projek gewerk (https://www.youtube.com/watch?v=1lX3BJah0Qs). “Die projek het baie goed by die Loeries gevaar, en ook internasionaal, onder andere by Cannes. Dit het my gehelp om by die lys van illustreerders ingesluit te word. Ek het die voorreg gehad om aan die illustrasies te werk wat deel van die verpakking uitgemaak het.”

Om so ’n hoë toekenning op internasionale vlak te behaal, is “onwerklik”, sê sy. “Ek het geleer om meer vertroue in my eie talent te hê. Ek besef dat dit gewig dra en verder ontwikkel kan word. Ek weet dat ek selfs groter drome moet hê.”

Om groot te droom, het haar nog altyd gehelp. In die afgelope vyf jaar sedert sy aan die NWU gegradueer het, het Izabel ’n indrukwekkende getal toekennings ingepalm. Dit sluit die volgende in: 2023 | Loeries: Young Titans Winner – eerste plek

2023 | Loeries Young Creative Award – finalis

2023 | ADC Awards: Designer Ranking – tweede plek

2023 | Loeries: Packaging Design (Bee&Bee Inverroche) – goud

2023 | Loeries: Brand Identity & Collateral Design (Pantry by Marble) – finalis

2023 | Loeries: Design Mixed Media Campaign (Pantry by Marble) – finalis

2023 | ADC Awards: Design for Good/Packaging Design (Bee&Bee) – goue kubus

2023 | Creative Circle: Brand Identity and Collateral Design (Pantry by Marble) – derde

2022 | Loeries: Brand Identity Programme (Zioux by Marble) – brons

2022 | Loeries: Design Mixed-Media Campaign (Zioux by Marble) – silwer

2021 | Loeries: Packaging Design (Thirst Gin & Tonic Range) – brons

2021 | Loeries: Brand Identity Programme – finalis Ranglyste meet kreatiewe innovasie

Volgens die Loeries se amptelike verslag oor die ranglyste meet dit sedert 2010 op ’n onafhanklike wyse die mees innoverende handelsmerke in die handelsmerk-kommunikasieruimte. Die verslag toon die resultate vir drie agtereenvolgende jaar op ’n keer, en gee ’n duidelike prentjie van diegene wat kreatiewe innovasie oor ’n volgehoue tydperk lewer.

“Hierdie ranglyste kan gebruik word om ons bedryf te laat groei en ons in staat stel om bykans twee biljoen verbruikers in meer as 70 lande oor ons streek te dien,” sê hulle.

Die ranglyste word deur ’n stelsel bereken waar punte toegeken word vir toekennings wat by die jaarlikse Loerie-toekennings gegee word, asook vir handelsmerke, veldtogte, maatskappye, individue, agentskappe en opvoedkundige instellings.

.....

Marina Herbst

....

Tamara Kirsten

....

Izabel Barkhuizen

Submitted on Wed, 02/14/2024 - 09:05