Kampus bult sy spiere by USSA 2017

Dis is amptelik! Die Noordwes-Universiteit (NWU) is tweede in die land wanneer dit by liggaamsbou as mededingende sport kom.

Tydens die onlangse Universiteit Sport Suid-Afrika-kampioenskap (USSA-kampioenskap) wat in Durban gehou is, het die span van die kampus in Vanderbijlpark nie alleen die algehele vroueafdeling gewen nie, maar ook algeheel tweede in die mansafdeling geëindig.

Topposisie vir die NWU-vroue

Die vroueliggaamsbouspan het nie net met die topposisie weggestap nie, maar ook bekers in twee kategorieë huis toe gebring, naamlik: algehele vrouewenner en beste vroueposeerder. Tholofelo Chabalala is as die algehele vrouewenner aangewys en Dorcas Cassie Billa as die beste vroueposeerder.

Die volgende vroue van die span het op die verhoog geëindig: Natasha de Lange, Lizzy Wiese, Tsereledzo Maluleke, Dorcas Casie Billa, Tsholofelo Chabalala en Sibongile Mafobokoane.

Tweede plek vir NWU-mans

Die mansliggaamsbouspan het sterk geëindig en die algehele tweede plek verwerf, met Teboho Malebana as die beste mansposeerder.

Die volgende mans van die span het op die verhoog geëindig: Michael Gouws, Stefan Coetzer, Casimiro Anselmo, Morena Mololokolo, Rhazani Sithole, Ayanda Piyo, Vusumuzi Nhlapo, Mahlatse Mokhola, Teboho Malebane en Mduduzi Msiza.

’n Algehele prestasie uit die boonste rakke

Volgens die span se afrigter, Raphael Ntumba, het ’n span van 16 liggaamsbouers van die kampus in Vanderbijlpark die universiteit tydens die kampioenskappe verteenwoordig. Die kompetisie geniet IFBB-status (Internasionale Federasie van Liggaamsbou Suid-Afrika). “Ons het ’n uitstekende vertoning gelewer en die span het gewys wat hulle teen baie sterk kompetisie kan doen,” sê Raphael.

 Die Vanderbijlpark-span.

Submitted on Wed, 07/19/2017 - 11:35