Jy is nooit te oud om iets nuuts te leer nie

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sien elke jaar met verwagting uit na die nuwe inname van eerstejaarstudente regoor die drie kampusse. Die universiteit het hierdie jaar 9 955 eerstejaar-kontakstudente verwelkom, van wie 1 571 op die kampus in Vanderbijlpark geregistreer het.

Een so ’n student is Jacob Seboko van Sebokeng. Op 79-jarige ouderdom dra hy met trots sy pers eerstejaars-T-hemp en sy mede-eerstejaarsvriende noem hom liefderyk “Madala Jacob”.  

Jacob, wat vir verskeie vakke geregistreer het, hoop om in 2020 tot die Nagraadse Onderwyssertifikaat-program (NGOS-program) toegelaat te word. Sy uiteindelike doel is om ’n professionele onderwyser te word.

 “Jy is nooit te oud om iets nuuts te leer nie,” sê Jacob. “En nie net die gewone goed nie, maar iets groots, iets wat kan verander hoe jy die wêreld sien en verstaan.

“Ek het nog altyd die begeerte gehad om onderwys te gee, en as ek nog kan, wil ek baie graag ’n onderwyser wees. Ek het ’n kop vir syfers en ’n aanleg vir rekeningkunde en ekonomie, en in albei vakke is daar ’n groot tekort aan onderwysers.”

Ná 23 jaar terug op universiteit

Dit is egter nie sy eerste ervaring in hoër onderwys of by die universiteit nie. Hy het in 1996 ’n baccalaureusgraad in publieke administrasie by die destydse Vanderbijlparkkampus van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf. Dit is gevolg deur ’n diploma in Basiese Onderwys en Opleiding vir Volwassenes (ABET) aan Unisa.

Ná die dood van sy vrou in 2009 het Jacob – wat as ABET-onderwyser gepraktiseer het – die behoefte gevoel om die eensame ure te vul deur verstandelik fiks te bly.

"Ek het soveel tyd op hande en deur die genade geniet ek steeds goeie gesondheid,” verduidelik Jacob. Hy voeg by dat opvoeding vir hom ’n manier is om besig te bly en om terselfdertyd ’n lewenslange droom te bewaarheid.

Toe hy gevra is wat sy mede-eerstejaarstudente van sy terugkeer na die boeke dink, sê hy: “Ek sou wou hê dat ek hulle motiveer om hulle opleiding ernstig op te neem. Daar is diegene wat sê dat my tyd verby is, maar ek glo daaraan om deur te druk. En hulle sal sien: opvoeding verander ’n mens se menswees. Dit maak jou nederig, maar hef jou ook op. Opvoeding is ’n seën.”

Jacob, wat van Heilbron “in die ou Transvaal” kom, het sy skoolloopbaan in 1966 voltooi.

 

Jacob Seboko (regs) saam met prof Dan Kgwadi, die visekanselier, en prof Linda du Plessis, adjunkvisekanselier vir kampusbedrywighede in Vanderbijlpark.

 

 

 

 

 

 

Submitted on Tue, 02/19/2019 - 12:00