Jaarlikse galafunksie vier die STR-klas van 2018

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs die rooi tapyt uitgerol om die uitmuntende prestasie van sy STR-rekeningkundestudente te vier.

Hierdie studente, wat almal met die kurrikulum vir die Sertifikaat in Teorie van Rekeningkunde (’n honneursprogram) besig is, berei voor vir toelating tot die 2019 SAIGR (Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters) se kwalifiserende eksamen in Januarie.

Volgens prof Heleen Janse van Vuuren, koördinerende direkteur by die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe, is die STR-kwalifikasie ’n voorvereiste vir die SAIGR se aanvanklike toets van bevoegdheid, of ATB (ITC) soos dit bekend staan.  

“Die STR-klas is besig om vyf dae per week baie hard te werk en ervaar geweldige druk,” verduidelik prof Janse van Vuuren, en voeg by dat die galafunksie die studente in staat stel om ’n welverdiende blaaskans te kry en die geleentheid te geniet voordat hulle hulle veeleisende voorbereiding vir hulle finale eksamen in September en Oktober begin. Die funksie word deur die ondersteuning van KPMG Secunda moontlik gemaak.

In sy toespraak het Hennie Viviers, ’n verteenwoordiger van KPMG Secunda en alumnus van die NWU, die studente met hulle deursettingsvermoë en harde werk gelukgewens. Hy het hulle gemotiveer om die meeste uit hulle akademiese studies te haal en hulle verseker dat hulle akademiese toewyding dividende sal afwerp.

Die galafunksie is ook ’n belangrike gebeurtenis vir die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe se akademiese leerlingrekenmeesters. Hierdie leerlingrekenmeesters het reeds hulle STR-eksamen in Januarie geslaag en hulle is by die Vanderbijlparkkampus met hulle leerkontrak besig. Prof Janse van Vuuren verduidelik dat as deel van hulle opleiding die leerlingrekenmeesters vir die organisering en bestuur van die jaarlikse galafunksie verantwoordelik is.

Bou op ’n vaste fondament voort

Die STR-klas van 2018 het groot skoene om vol te staan. Hulle voorgangers het ’n 93%-slaagsyfer behaal vir kandidate wat vir die eerste keer die eksamen tydens die 2018-weergawe van die SAIGR-eksamen afgelê het. Die NWU was een van slegs vier universiteite regoor Suid-Afrika om meer as 90% te behaal. Die nasionale gemiddeld was 78%.

Andrew Lumley (KMPG), Mariana Delport (NWU), Anneke Moolman (NWU), Heleen Janse van Vuuren (NWU), Alinka Mostert (NWU) en Hennie Viviers (KPMG).

Submitted on Mon, 05/07/2018 - 10:20