Howzat! met KFC mini-krieket by NWU

ʼn Horde klein krieket-karnallies gewapen met kolwe, beenskutte en paaltjies het onlangs op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark toegesak om met hulle mini-krieketvernuf te spog. 

Meer as 20 skole van regoor Suid-Gauteng is deur mini-krieketspanne tussen die ouderdomme van ses en nege by die KFC Mini-Cricket Festival verteenwoordig. 

Die fees is deur Sportbestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die Gauteng-krieketraad, Sasol-diensstasie in Vanderbijlpark en die KFC-kitskosketting georganiseer.

Die dag het afgeskop met ʼn opwarmingsessie in die vorm van lekker saamspeel onder leiding van sportwetenskapstudente. Die jong krieketspelers het ʼn kans gekry om hulle gooi- en vangvaardighede, kolf- en veldwerk asook algemene spanwerk te oefen.

Volgens dr Anita Lennox, een van die organiseerders van die fees en ʼn senior dosent in die Skool vir Bestuurswetenskappe by die NWU, is die doel van geleenthede soos hierdie om die kinders ʼn kans te gee om aktief te wees en pret te hê, terwyl hulle in die proses die fynere kunsies van krieket leer. 

“Die dag is nie oor wen of verloor nie,” verduidelik dr Lennox. “Dit gaan daaroor dat die kinders hulself geniet terwyl hulle aan hulle kolf- en boulvaardighede werk en in die proses selfvertroue ontwikkel en die fisiese oefening kry wat kinders van hulle ouderdom so nodig het. Dit alles in ʼn vrolike atmosfeer waar hulle nuwe maats op die krieketveld kan maak.”

                                                                                          

 


Submitted on Fri, 10/20/2017 - 09:32