Grondwetkommissaris gaan programrede by Sosiale Wetenskappe-konferensie lewer

Bernedette Muthien, internasionaal-erkende Suid-Afrikaanse kundige wat betref geslagsgelykheid, geweldloosheid, en geslagsgebaseerde geweld, sal as hoofspreker optree by die agste Internasionale Konferensie oor Sosiale Wetenskappe - ’n samewerkingsprojek tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus  en die Sosiale Wetenskappe Navorsingsvereniging in Turkye.

Die konferensie wat in Durban gehou gaan word, vind vanaf 23-25 Augustus 2017 plaas en afgevaardigdes van regoor die wêreld sal dit bywoon, terwyl kundiges van regoor die wêreld hulle onderskeie sienings oor die impak en belang van sosiale wetenskappe sal deel.

Muthien is een so ’n kundige, en is onlangs in die media aangehaal waar sy sê: “Dit is vir my belangrik om te bepaal waar iets vandaankom sodat ons dit in die geskiedenis kan opspoor en die werklike oorsprong daarvan kan verstaan.”

Hierdie stelling vat nie net Muthien se passie oor en toewyding aan kwessies van grondwetlike belang saam nie, dit is ook waarom sy beskou word as ’n kundige navorser met wie daar rekening gehou moet word.

Meer oor Bernedette Muthien

Muthien spog met meer as 22 jaar ervaring as fasiliteerder en navorser op al ses kontinente en het meer as 200 publikasies en konferensiereferate agter die blad, waarvan sommige in ten minste 16 plaaslike en internasionale tale vertaal is.

Sy het reeds senior uitvoerende bestuursposte in die akademie, die burgerlike samelewing en die regering (in Suid-Afrika en in die buiteland) beklee en is tans ’n kommissaris in die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe.

Muthien was die eerste Fulbright-Amy Biehl-genoot by die Stanford Universiteit (1994-1995) en sy het nagraadse grade in Politieke Wetenskap van die Universiteit van Kaapstad (dekaan se merietelys, 1992), en die Universiteit Stellenbosch (Andrew W Mellon-genoot, 2006–2007) in Suid-Afrika.

Sy dien op verskeie internasionale adviesrade, insluitende die internasionale vaktydskrif Human Security Studies, asook die internasionale instituut oor vredesonderrig.

Meer oor die ICSS-konferensie

ICSS verteenwoordig ’n platform vir individue wat in alle velde van die sosiale wetenskappe belangstel, en as sodanig fokus die konferensie op dissiplines soos die ekonomie, entrepreneurskap, korporatiewe en openbare bestuur, politieke wetenskap en sosiologie, om maar net ’n paar te noem.

Deur middel van die ICSS-konferensie wil die organiseerders ’n wye gehoor van akademici, beleidmakers en praktisyns rondom duidelik-gedefinieerde onderwerpe bymekaarbring, deelnemers help om produktiewe debatte te voer, en wedersydse begrip fasiliteer. ’n Bykomende doel van die konferensie is om ’n ruimte te verskaf vir lede van die akademie en professionele persone met interdissiplinêre/multidissiplinêre belange wat met sosiale wetenskappe verband hou om lede binne en buite hulle eie besondere dissiplines te ontmoet en met hulle skouers te skuur.

Hierdie jaar is prof Herman van der Merwe, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie, en prof Babs Surujlal, Direkteur: Navorsingsontwikkeling, albei van die NWU, die medevoorsitters by die konferensie. Die derde medevoorsitter van die konferensie is prof Can Aktan, Voorsitter: Sosiale Wetenskappe Navorsingsvereniging in Turkye.

Vir meer inligting besoek asseblief die ICSS se webwerf http://www.icssconference.net


Bernedette Muthien, internasionaal-erkende Suid-Afrikaanse kundige oor kwessies van geslagsgelykheid, geweldloosheid, en geslagsgebaseerde geweld, sal as hoofspreker optree by die agste Internasionale Konferensie oor Sosiale Wetenskappe

 

Submitted on Mon, 04/03/2017 - 11:50