Grafiese-ontwerpstudente en -gegradueerdes ontvang nog nasionale en internasionale erkennings

Kort op die hakke van pryse by die Loerie-toekennings en die Student Gold Pack-toekennings (lees meer: https://news.nwu.ac.za/nwu-designers-dazzle-loerie-and-student-gold-pack-awards), het studente en gegradueerdes in Grafiese Ontwerp van die Noordwes-Universiteit (NWU) verdere nasionale en internasionale erkenning vir hulle besondere kreatiwiteit en vaardighede ontvang.

Die jongste toekennings sluit ’n gesogte lidmaatskap van die internasionale vereniging van tipografiese ontwerpers (International Society of Typographic Designers, ISTD) vir drie studente in, en twee ander het ’n silwer toekenning en vernufsertifikaat by hierdie jaar se Pendoring-toekenning ontvang.

Studente nou volle lede van die ISTD

Magdeli Venter, Kayla Fouché en Zelmari de Beer is nou almal volle lede van die ISTD. Hulle het lidmaatskap ontvang deur die ISTD se jaarlikse studente-evalueringskema (Student Assessment Scheme), waardeur baie kunstige tipografiese ontwerpprojekte ingedien word om deur ’n streng en ervare paneel beoordelaars geëvalueer te word.

Daar is drie vlakke van prestasie, en Magdeli het ’n merietelidmaatskap (hoë gradering) ontvang, met Kayla en Zelmarie wat albei geslaagde lidmaatskap ontvang het.

“Ons neem jaarliks aan die ISTD se studente-evalueringskema deel waar senior ontwerpstudente uit ’n verskeidenheid voorafbepaalde projekopdragte moet kies en ’n gevorderde konseptuele ontwerp met die aanwending van tipografiese en uitlegvaardighede moet skep,” sê Marina Herbst, lektor by die Grafiese Ontwerp-vakgroep.

“Ons het nog altyd die studente aangemoedig om werk van die hoogste standaard te skep, en die lidmaatskap het ’n groot prestige in die ontwerponderriggemeenskap en die bedryf. Ons is geweldig trots op ons studente dat hulle onverpoosd aan hierdie projekte gewerk het, en hierdie jaar is ons weer eens waardig geag met die drie lidmaatskappe wat deur die vereniging aan ons toegeken is.”

Volgens die ISTD-webwerf (https://www.istd.org.uk/sas) is hulle doelwit om aan beide tutors en studente die geleentheid te gee om tipografie as inherente deel van die ontwerpproses te ondersoek en te ontwikkel en om só tipografie in hulle ontwerponderrig na vore te bring.

Hulle sê dat die studente-evalueringskema uniek is en anders is as talle ontwerpkompetisies wat op studente gerig is, aangesien dit die student se hele projek in ag neem, nie net die finale uitkoms nie.

Al drie studente glo dat die ISTD-lidmaatskap vir hulle deure in hulle loopbane sal oopmaak. “Ek wil al die eer aan God gee vir hierdie toekenning. Ek glo dat dit die begin is van nuwe geleenthede, alles in Sy naam. Ek beskou dit as ’n wonderlike gawe,” sê Magdeli.

Kayla sê sy stel vir haarself aan die begin van die jaar ’n doelwit, en die toekenning is die resultaat daarvan. “Dit is wonderlik om op ’n internasionale platform soos hierdie erkenning te ontvang. Zelmari sê die toekenning is vir haar veral van groot betekenis. “Ek kom van ’n klein dorpie en ek is die eerste een in my gesin wat verdere studie aanpak. Dit is nie net vir my ’n groot prestasie nie, maar ook vir my gesin. Dit wys net wat met harde werk vermag kan word.”

Wen lof by die Pendoring-toekenningseremonie

Die hoogs gesogte Pendoring-toekennings bevorder en erken kreatiwiteit in al Suid-Afrika se inheemse tale in die Suid-Afrikaanse reklamebedryf.

Jessica Powell en Tian Zietzman het Grafiese Ontwerp se trotse erfenis van uitnemendheid by die Pendorings voortgesit. Hulle projek, Kleitjie bou ’n huisie, het beide ’n silwertoekenning en ’n vernufsertifikaat in die publikasie-ontwerp- en studente-ontwerp vir drukwerk- en die Out-Of-Home (OOH) Crafts se illustrasie-kategorie ontvang.

Jessica, wat hoofsaaklik vir die illustrasies verantwoordelik was, sê die Pendoring-toekennings is die bewys dat al haar harde werk – soms onder moeilike omstandighede – erkenning ontvang. “Dit is wonderlik om nou die vrugte te pluk, veral aangesien ek hierdie jaar my eie besigheid in die illustrasiebedryf begin het. Dit beteken baie.”

“Ons is baie trots op die studente dat hulle soveel van hulle tyd en harde werk in hulle ontwerpwerk gesit het en dat dit vrugte gedra het,” sê hulle dosent, Danelle Heenop.

.......

Magdeli Venter het merietelidmaatskap ontvang.Kliek hier om haar projek te sien, besoek:

 

.....

Zelmari de Beer het lidmaatskap van die ISTD ontvang. Kliek hier om Zelmari se projek te sien,

....

Kayla Fouche  het lidmaatskap van die ISTD ontvang. Kliek hier om Kayla se projek te sien.

....

Jessica Powell en Tian Zietzman,onder leiding van die voormalige NWU-dosent Jo-Ann Chan, het ’n silwertoekenning en ’n vernufsertifikaat by hierdie jaar se Pendoring-toekennings vir hulle projek, Kleitjie bou ’n huisie, ontvang.

 

Submitted on Mon, 12/04/2023 - 15:43