GKI-projek: maak jou hande vuil en laat jou hart vir die natuur klop

“As jy ’n tuin en ’n biblioteek het, het jy alles wat jy nodig het.” Hierdie woorde van die Romeinse politikus en prokureur, Marcus Tullius Cicero, het by ’n mens opgekom tydens die onlangse inwyding van die Groenkampusinisiatief (GKI) se mobiele groentetuinprojek op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.

Studente van verskeie koshuise het hulle moue opgerol om by die mobiele groentetuinprojek betrokke te raak. Hierdie koshuise sluit in: Faranani (afkampus), Thuthuka, Khumba, Vergelegen en Horizon (nagraadse koshuis). Volgens die organisasiekomitee bou hierdie projek voort op die sukses van vorige inisiatiewe, soos ’n kweekhuis op die kampus en die tuinuitleg by die koshuise. Volgens Nadine Smit, ’n lid van die GKI, sal die mobiele groentetuinprojek as loodsprojek ten opsigte van lewensvatbaarheid dien, en elke deelnemende koshuis het dus net ’n beperkte getal groentebokse – vier elk – ontvang. Om aan die inisiatief te kan deelneem, was ’n 20-persent-verbintenisfooi (R304) aan die GKI betaalbaar. ’n Volledige mobiele groentetuinboks se waarde is R1 520.

Met die hulp van die Magic Garden Centre – ’n bekende kwekery in Vereeniging – kon die komitee ’n inleidende werkswinkel oor groentetuinmaak aanbied. Elke groenteboks is ook met die nodige materiaal (tuingereedskap, saad, voedingstowwe en grond) toegerus.

Op die dag van die inwyding het studente om 09:00 by die Groot Lapa bymekaargekom om spanne in te deel en vir die werkswinkel voor te berei. Nadine het ’n praktiese demonstrasie gelewer oor hoe om ’n groenteboks te plant en die verskillende metodes om die grond voor te berei, asook die korrekte natleitegnieke. Die pret het eers werklik begin toe die studente aan hulle groentebokse begin werk het. Goedgeaarde mededinging en die moontlikheid van ’n prys vir die groenteboks wat die beste in stand gehou word, motiveer elke koshuis nou om hulle onderskeie groentebokse ekstra sorgvuldig aan die gang te hou. Die GKI sal deur middel van gereelde vorderingsverslae op hoogte gehou word.

Nadine verduidelik dat sou ’n koshuis besonder goed met die projek vaar, hulle gedurende die volgende plantseisoen vir vier addisionele bokse aansoek kan doen. “Deur dit te doen en die studente gemotiveer te hou, hoop ons dat die projek volhoubaar sal bly,” sê Nadine.

Die GKI-komitee het ook vier mobiele groentebokse gekoop en gaan spinasie en ertjies in die patio-area van die Leer- en Navorsingsmeent (gebou 4) kweek.

Om meer oor die GKI te leer en hoe jy by hierdie projekte betrokke kan raak, besoek asseblief hulle Facebook-bladsy

Studente in ‘n prettige luim tydens die inwyding van die Groenkampusinisiatief (GKI) se mobiele groentetuinprojek op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.

 
Submitted on Wed, 07/19/2017 - 15:55