EWP: Verander die gesig van entrepreneurskap in Suid-Afrika

Dit is ’n bewese feit dat belegging in vroulike entrepreneurs tot werkskepping, nuwe inkomstebronne en innoverende bydraes tot die gemeenskap lei.

Voorbeelde hiervan – soos dit tydens die 2018-weergawe van die Ondernemende Vroue-program (EWP) ontwikkel het – sluit onder andere ’n virtuele kantoorbestuurstelsel, ’n meubelonderneming wat ruimte optimaliseer, ’n mobiele vleisdelikatesse, ’n modehandelsnaam vir groter groottes, en ’n kinderhotel in.

Die EWP is een van die Noordwes-Universiteit (NWU) se vlagskip-bemagtigingsprojekte en word deur die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gefasiliteer.

Die doel van die program, wat in 2013 geïnisieer is, is om intydse besigheidsondersteuningsdienste te lewer aan vroue wat hulle eie sakeondernemings wil begin.  

Deelnemers word deur ’n omvattende agt maande lange kurrikulum geneem om hulle te help om besigheidsidees en markte te identifiseer, om ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en om uiteindelik hulle eie beginneronderneming suksesvol te inisieer.

Tydens die proses word vroue nie net deel van ’n dinamiese portuurnetwerk nie, maar ontvang ook mentorskap van ervare entrepreneurs en kundige lede van die akademie.   

Volgens Leoni Greyling, EWP-bestuurder, verskaf die program aan beginnerondernemings ’n veilige omgewing. Hierin kan hulle vryelik ondersoek instel na hulle entrepreneurspogings, terwyl hulle terselfdertyd die voordele van gestruktureerde leer deur werkswinkels en groepgesentreerde leeraktiwiteite geniet.  

Daarbenewens kry die vroue ook ’n platform vanwaar hulle hulle besigheidsnetwerke kan uitbrei.

Volgens die verslag van Global Entrepreunership for Women word die maatskappye van entrepreneurs met groter en meer diverse netwerke, en wie se netwerk professionele raadgewers soos rekenmeesters en prokureurs insluit, groter. Daarom verkry die bhive EDC ondersteuning van verskeie streeksbesigheidskamers en gemeenskapsleiers.

EWP: gaan van krag tot krag

Daar was hierdie jaar twee weergawes van die program wat gelyktydig in sentraal-Suid-Afrika aangebied is, naamlik die EWP Sasolburg en die EWP Vanderbijlpark. By die galageleentheid op 11 Oktober 2018 is ’n totaal van 28 vroue vir die suksesvolle voltooiing van die program beloon. Die geleentheid het by die Emerald Resort and Casino in Vanderbijlpark plaasgevind.

In nog ’n mylpaalgeleentheid is die program ook met die ondersteuning van die universiteit se kampus in Mahikeng in Noordwes bekendgestel. Die program het in Augustus afgeskop en 18 vroue is deel van hierdie eerste groep ondernemers. 

 

Johann Landsberg, Bestuurder: bhive EDC, en Leoni Greyling, Bestuurder: EWP, saam met die deelnemers aan die Mahikeng-program.

Submitted on Fri, 10/19/2018 - 12:12