Driehoek-tragedie: NWU help met genesingsproses

Met die gebeure van Vrydag 1 Februarie 2019 nog vars in die geheue van alle Suid-Afrikaners, ondersteun die gemeenskap voortdurend die personeel, leerders en gesinne wat deur die Hoërskool Driehoek-tragedie geraak word.

Ná die tragedie het die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark by die talle sorggewers, professionele liggame, korporatiewe maatskappye en die algemene publiek aangesluit om die skoolgemeenskap te help om sy reis na emosionele genesing te begin.

Op Woensdag 13 Februarie het personeel en studente van die NWU se Fakulteit Opvoedkunde die oorweldigende taak aangepak om die skool se heining op te ruim. Dit is hier waar ouers, leerders en lede van die gemeenskap kranse, boodskappe van ondersteuning, geraamde foto’s, teddiebere, getekende skooluniforms, linte, kerse en houtkruise ter herinnering aan die vier leerders wat in die tragedie gesterf het, geplaas het.

Die span vrywilligers het om 08:00 voor die skool byeengekom en na ’n groepgebed die heining begin opruim, die gedenkwaardighede gesorteer en die kerswas van die sypaadjie verwyder. 

Prof Lloyd Conley, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het aan die skoonmaakprojek deelgeneem en gesê dat die fakulteit as professionele opvoeders ongetwyfeld ’n spesiale empatie met al die betrokkenes ervaar.

“Benewens dat ons elke dag met kinders werk en self ouers is, kan ons ons net die skok, hartseer en wanhoop van hierdie skoolgemeenskap indink.” Hy het bygevoeg dat die fakulteit probeer om die skool op elke moontlike manier te help om hierdie traumatiese gebeurtenis te verwerk.

Een van die BEd-studente wat met die skoonmaakprojek help, Tiisetso Thokoa, het as vrywilliger vir die projek aangemeld omdat ’n tragedie soos hierdie ’n gemeenskap saamsnoer. “Dit leer ons dat ons almal deel is van iets groters, en dat ons geskep is om langs mekaar te dien en sodoende ’n blywende impak te maak.”

Verskeie BEd-studente het as vrywilligers aan die projek deelgeneem.

Welgedaan - personeel en studente van die NWU se Fakulteit Opvoedkunde na die opruimingsprojek by die Hoërskool Driehoek.

Prof Lloyd Conley (regs), die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het ook sy moue opgerol en met die opruimwerk gehelp.

* Op 1 Februarie het leerders van die Hoërskool Driehoek die oggendbyeenkoms verlaat om na hulle onderskeie klaskamers toe te gaan toe ’n loopbrug ineengestort het. Drie leerders: Roydon Olckers, Jandré Steyn en Marli Currie, is op die toneel oorlede, met ’n vierde leerder, Marnus Nagel, wat twee dae later in die hospitaal aan sy beserings dood is. Ná die tragedie het die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark ingetree om leerders en hulle gesinne met trauma- en posttraumatiesestres-berading te help.

Submitted on Wed, 02/20/2019 - 11:25