Cynthia – iemand om mee rekening te hou in NWU-basketbal

Wanneer Cynthia Mudau die basketbalbaan betree, kan jy van een ding seker wees: sy is gereed om haar teenwoordigheid te laat geld, veral op die telbord.

Hierdie 22-jarige sterbasketbalspeler van die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is onlangs gedurende die Universiteite Sport Suid-Afrika-toernooi (USSA-toernooi) as die waardevolste speler (Most Valuable Player) aangewys. Hierdie prestasie het gevolg ná ’n moeilike seisoen waarin Cynthia vir amper drie maande as gevolg van ’n besering op die kantlyn moes sit.

Volgens hierdie sterspeler het sy slegs ’n week voor die USSA-toernooi begin oefen, en sy moes daarna ook nie te straf oefen nie omdat sy nog nie ten volle herstel het nie.

“My afrigters het my tydens die toernooi met oorleg gebruik en ons span het baie goed gespeel,” sê Cynthia. Sy voeg by dat dit ’n teleurstelling was toe die span in die finale rondte verloor het. Sy onthou dat sy gevoel het dat sy meer kon doen, maar as gevolg van die besering dit nie kon regkry nie.

Vroeë prestasie

Cynthia, wat in Soweto gebore is en grootgeword het, en wat ook ’n lid van USSA se nasionale span is, het vroeg reeds ’n aanleg vir sport getoon en in atletiek, ballet en netbal uitgeblink. Sy het in 2015 gematrikuleer en haar hoërskoolloopbaan op ’n hoë noot afgesluit toe sy as Gauteng se Sekondêre Sportvrou van die Jaar bekroon is.

“Dit was vir my ’n wonderlike oomblik omdat ek nooit gedink het dat ek so ’n prestigetoekenning sou wen nie,” sê Cynthia, wat op daardie stadium basketbal in haar vrye tyd gespeel het.

Daar is geen plaasvervanger vir harde werk nie

Cynthia het onlangs haar graad in Internasionale Handel verwerf en studeer tans vir ’n graad in Bemarking. Sy glo vas dat daar geen plaasvervanger vir harde werk is nie.

 “Ek is ’n goeie atleet. Ek kan hardloop en spring en ek het boonop wonderlike stamina. Hoeveel talent ek egter ook al het, dit het baie harde werk geverg om bo uit te kom. Ek glo dat in enigiets wat ’n mens doen, hetsy dit in sport, in jou werk of in jou persoonlike lewe is, jy alles moet gee wat jy kan. Gebruik jou tyd om van ander te leer en vra hulp as dit nodig is,” sê Cynthia.

En wat lê vir haar voor? “Ek droom daarvan om ’n USSA- asook ’n Varsitybeker-toernooi saam met my NWU-familie te wen!”


Cynthia Mudau

 

 

 

Submitted on Wed, 05/13/2020 - 15:48