Wêreld loof NWU-student vir voedselsekerheidsoplossing

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het dit weer gedoen! Tydens die wêrelduitstalling vir insentiefreise (World Exhibition for Incentive Travel, IMEX) is die NWU se toewyding tot navorsingsuitnemendheid en maatskaplike geregtigheid herbevestig toe Emilé Coetzee as die wenner van die 2019 Toekomstigeleiers-forum gekroon is.

Emilé – ’n honneursstudent in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe – is die derde student van die NWU wat die afgelope vyf jaar hierdie gesogte toekenning ontvang.

Hierdie jaar se IMEX het in Frankfurt, Duitsland plaasgevind, en Emilé het haar “Forbidden Fruit”-konsep aangebied as ’n intervensie om voedselsekerheid in die toekoms te verseker. Die konsep, waarmee die beoordelaars uiters beïndruk was, fokus op die verbruik van wilde plante. Volgens Emilé kan die verbruik van wilde voedsel (insluitend voedsame onkruid in tuine) die gaping tussen volhoubaarheid en armoede in die afsienbare toekoms verklein. Tydens haar aanbieding het Emilé verduidelik dat Suid-Afrika in die konteks van voedsel baie divers is. Dit is hierdie diversiteit wat, volgens Emilé, Suid-Afrika in staat stel om ’n groot bydrae tot die wêreldwye eise om bewaring te maak.

Toe sy gevra is om haar konsep verder te verduidelik, het Emilé gesê dat aangesien die meeste van die ander finaliste tegnologie by hulle voedselsekerheidsoplossings geïnkorporeer het, sy gefokus het op wat Suid-Afrikaners in hulle voedsel wil hê, en op dit waartoe hulle maklik toegang kan kry. “Ek het na die nasie as geheel gekyk. Almal van ons wil op ’n meer volhoubare manier leef, en wil nie geneties gemodifiseerde organismes in ons voedsel hê nie, vandaar die idee van verbode vrugte. In wese neem die konsep ons terug na waar alles begin het, en leer mense dus om wilde voedsel te oes,” het sy gesê.

Volgens mediaberigte ná die seremonie het Emilé gesê dat sy glo dat Suid-Afrika een van die hoofbroodwinners vir Afrika se toerisme- en vergaderingbedryf is, en die grootste groep internasionale toeriste na die kontinent lok.

Volgens Suid-Afrikaanse Toerisme se hoofkonvensieburobeampte, Amanda Kotze-Nhlapo, verteenwoordig Emilé se bydrae tot voedselsekerheid ’n trotse oomblik vir Suid-Afrika op die wêreldverhoog. Sy het verder gesê dat die krediet ook moet gaan aan die NWU se Skool vir Toerismebestuur, wat wêreldgehalte gegradueerdes oplewer wat na vore tree om die volgende geslag toerismeleiers van die Afrika-kontinent te lei.

Emilé Coetzee. Foto: Facebook

 

 

 

 

 

 

Submitted on Mon, 05/27/2019 - 15:49