USSA 2017: ’n dompelskoot vir NWU Vanderbijlpark

Die vrouebasketbalspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het op die baan gewys wat in hulle steek tydens die onlangse Universiteitsport Suid-Afrika-kampioenskappe (USSA-kampioenskappe) wat in Stellenbosch plaasgevind het. Die span het goed gevaar en algeheel derde geëindig.

In hulle opmars na die semifinale het die span van Vanderbijlpark hul eweknieë van die Durban Universiteit van Tegnologie (67 – 31), die NWU Mahikeng (81 – 16) en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (64 – 41) ’n les in basketbal geleer. Die span het twee wedstryde verloor – een teen plaaslike mededingers, die Vaal Universiteit van Tegnologie (26 – 50), en nog een teen die Universiteit van die Witwatersrand (49 – 78).

In die uitspeelwedstryd vir die derde en vierde plek het die span van NWU Vanderbijlpark die Universiteit van Pretoria met 48 – 33 gewen en algeheel derde in die kampioenskap geëindig. Nocwaka Luke, ’n lid van die All Star-span, is as die toernooi se beste puntemaker aangewys.

Nog ’n hoogtepunt van die gebeurtenis was die verkiesing van mnr Frans Matloga, die NWU Vanderbijlpark se afrigter, as die nuwe voorsitter van USSA Basketbal.

 Die NWU Vanderbijlpark basketbalspan saam et hulle afrigter, Frans Matloga.

Submitted on Thu, 07/27/2017 - 09:26