Toppresteerdertrio deur internasionale vereniging vereer

Drie studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het onlangs die verhoog betree as Taktoekenningswenners van die toonaangewende Golden Key Internasionale Erevereniging.

Ammaarah Abba, Tendai Mavhungu en Salome Mofokeng se individuele akademiese prestasies, werksverantwoordelikhede, buitemuurse aktiwiteite, leierskapsposisies en toewyding aan gemeenskapsdiens het hul die hoogste eer in die Vanderbijlparkkampustak besorg.

Die wenners is deur Gillian Cloete, mededirekteur van die Golden Key Internasionale Erevereniging in Suid-Afrika, aangekondig.

  • Ammaarah Abba

Ammaarah is ʼn BEd student in die Fakulteit Opvoedkunde. Sy is besig met ʼn kwalifikasie in Senior- en FET-fase en spog met ʼn kumulatiewe akademiese gemiddeld van 80%. Gedurende 2018 het sy ʼn toekenning vir Uitstaande Akademiese Prestasie as ʼn topstudent van die vakgroep Engelse Didaktiek ontvang.

Sy is sedert 2017 deel van die Moslemvereniging en dien op die Vaal-forum vir Moslemvroue. Haar passie vir opheffing in die gemeenskap is ook duidelik in haar deelname aan die Driehoekskool-diensteprojek en die IMA Kliniek.

Ammaarah Abba

  • Tendai Mavhungu

Tendai, ʼn BCom-student in ekonomie en risikobestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, spog met ʼn akademiese gemiddeld van 75,9%. As ʼn lid van die afkampus koshuis, Faranani, is Tendai aktief betrokke in verskeie leierskapstrukture. Dit sluit in die Faranani sportsubkomitee (wat netbal- en vrouesokkeraksies fasiliteer), die Faranani kuns en kultuur-subkomitee (wat alle gemeenskapsdiens en buitekurrikulêre aksies fasiliteer), sowel as die NWU Vanderbijlpark-koshuisraad.

As koshuisleier het sy die “Echoes of Love”-uitreik in 2018 gelei, sowel as die kos en klere insamelingsaksie vir die TondLushaka Home in Limpopo vroeër vanjaar. Tendai is ook aktief op die sportveld en verteenwoordig die kampus in netbal.

 

Tendai Mavhungu

Salome Mofokeng

  • Salome Mofokeng

Salome is ʼn meesterstudent in onderwysbestuur aan die Fakulteit Opvoedkunde en spog met ʼn akademiese gemiddeld van 79%. Sy geniet ʼn aktiewe studentelewe en het op verskeie leierskapstrukture gedien, wat die Studentekampusraad (2012/2013) en die Faranani Huiskomitee insluit.

In die laasgenoemde hoedanigheid het sy die portefeulje van skakelbeampte beklee (2010/2011) en die volgende termyn as adjunk-prim gedien (2011-2013). In 2014 is sy met die Rivers of Living Waters Ministries se Youth Academic Achiever-toekenning vereer.

Sy speel sokker vir die kampussokkerspan, en is ook ʼn lid van die NWU se USSA-span. Sy is ook ʼn lid van die kampuskoor.

Die Lebohang Sekondêre Skool het haar in 2014 as Beste Nuweling-onderwyser aangewys, en in 2017 is sy vir haar uitnemendheid in onderrig bekroon (rekeningkunde en ekonomiese bestuurstudies).

 

* Die onlangse erkenningseremonie vir nuwe lede van die Golden Key Internasionale Erevereniging het ʼn totaal van 250 studente van die kampus in Vanderbijlpark in hulle midde verwelkom.

 

 

Submitted on Mon, 06/03/2019 - 13:39