SEW 2019: meer as idees – optrede!

Met die nasionale bekendstelling van Studente-entrepreneurskapsweek (SEW) wat op 1 Augustus 2019 plaasvind, is hoëronderriginstellings regoor die land gereed om bewustheid van die belangrikheid van entrepreneurskap as ’n lewensvatbare loopbaanopsie te skep.

Dit is ook die geval by die Noordwes-Universiteit (NWU).

Hierdie nasionale inisiatief is in 2017 geloods en beoog om bewustheid te skep van die feit dat tradisionele werk nie ’n student se enigste manier is om aan die ekonomie deel te neem nie. Deur middel van entrepreneurskap word studente bemagtig om innoverende en kreatiewe idees te benut om talle samelewingsprobleme op te los – insluitend dié van werkloosheid onder gegradueerdes.

Die tema van #SEW2019 is “Beyond ideas, into action”, en dit illustreer dat dit nou tyd is vir studente om die spreekwoordelike sprong te waag en daaraan te werk om hulle entrepreneursidees en ‑drome te verwesenlik. Kortom: ’n oproep om aksie vir alle studentepreneurs om besighede te begin wat ’n impak sal maak, volhoubaar en haalbaar is.

Volgens Johann Landsberg, bestuurder van die NWU se bhive-ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) in Vanderbijlpark, word studente uit alle akademiese dissiplines genooi om deel te neem aan die NWU se #SEW2019 veldtog.  

“Daar is steeds talle studente wat nie bewus is dat entrepreneurskap ’n lewensvatbare alternatief vir formele werk bied nie, en in ’n konteks waar studente sukkel om te oorleef terwyl hulle studeer, is die boodskap van SEW dat hulle moet probeer om hulle eie volhoubare inkomste te skep,” verduidelik Johann. Hy voeg by dat die inisiatief ten doel het om uiteindelik ’n beweging aan die gang te sit om akademiese aktiwiteit met sakesukses te balanseer.

#SEW2019

Ná die nasionale bekendstelling sal verskillende veldtogte in Augustus en September deur instellings regoor die land aangebied word.

Studente word aangemoedig om op die uitkyk te wees vir datums wat deur hulle instellings en op sosiale media aangekondig word. Volg @EDHEstudents op sosiale media vir die jongste nuus.

 

 

Submitted on Wed, 07/24/2019 - 12:55