Rugbyklub sluit sportjaar op hoë noot af

Wanneer jy 75 persent van jou driejaar-regrukplan se doelwitte in een jaar behaal, het daar een van twee dinge gebeur: óf jou mikpunte was te lag, óf jy het ‘n uitsonderlike seisoen beleef. In die geval van die Noordwes-Universiteit (NWU) Vaal Rugbyklub is die tweede scenario van toepassing.

Dié klub het onlangs sy jaarlikse prysuitdelingsfunksie gehad waartydens spelers en afrigters vir hul harde werk beloon is.  Volgens Shaun Meijer, voorsitter van die klub, is die dae wat spanne op die oewers van die Vaalrivier opdaag vir ‘n maklike wen, verby. 

Op sy beurt meen Jan Wiegand, president van die Valke Rugbyunie, dat die klub se prestasies waarlik iets is om op trots te wees. “Ons wil graag binne die volgende paar jaar meer spelers van die klub sien wat in die Supersport Challenge en die Curriebeker vir die Valke speel,” sê Jan.

‘n Omdraaiplan in aksie

Vra jy vir Sean MacCallaghan, die kampus se sportbestuurder, wat sy afdeling se wenresep is, antwoord hy dat ‘n duidelike en gedeelde visie die pas aangegee het.

“Ons het so ‘n jaar gelede op ‘n omdraaiplan besluit en ek het van die begin af geweet dat as ons hierdie plan wil laat werk, ons die beste afrigters en spelers sal moet betrek,” verduidelik hy. Hy voeg by dat Dewald Pieters die afrigter en spil was waarom die plan gedraai het.  Sy mede-afrigters is Gunder Williamson, Peet van der Westhuizen, Christo Abrahams en Jorrie Jordaan.

Klub beleef droomjaar

Die klub se 0.21-span het al 12 sy wedstryde gewen om as die Valke 0.21-kampioen gekroon te word. Die span het in die proses ‘n total van 642 punte aangeteken en slegs 122 afgestaan.  Daar is voorts nie minder nie as 100 drieë gedruk en slegs 15 afgestaan.

Nog ‘n pluimpie in die span se hoed is dat die klub ook verskeie 0.19 en 0.20-Curriebekerspelers opgelewer het terwyl die eerste en tweede spanne ook albei tot die halfeindrondte van die Volcano-reeks deurgedring het.  Hierdie spanne het ook in die top-2 posisie van die Valke-liga geëindig.

Spelers beloon vir goeie prestasies

  • Webster Swanepoel
  • Dylan Hepburn
  • Hugo Scott
  • Shawn Swart
  • HB Koekemoer
  • Marius Groenewald
  • Kazlo Holtzhauzen
  • Victor Mbatha
  • David Kleynhans
  • AJ Pretorius
  • Shingirai Nyangani
  • Xander van der Walt
  • Rudolf Burger

Kazlo Holtzhauzen is as die NWU Vaal Rugbyklub se Speler van die Jaar aangewys. By hom is Sean Meijer, voorsitter van die klub. Foto: Ettienne van Rensburg.

Submitted on Mon, 11/04/2019 - 12:57