Optentia-navorsing begin by die gemeenskap

Die 1990’s-idee van “gee sielkunde weg” het in 2017 by Optentia lewe gekry met navorsing wat hier gedoen word met die doel om “wetenskap weg te gee”. Vir die Optentia-navorsingsfokusarea is die gemeenskap die beginpunt van enige navorsingsprojek.  “By Optentia doen ons navorsing saam met die gemeenskap,” sê die direkteur, prof Ian Rothmann.

Die “saam met”-benadering tot navorsing kan in aksie gesien word by gemeenskapsadvieskomitees waarby Optentia betrokke raak om seker te maak dat die gemeenskap, hulle behoeftes en hulle insette die topprioriteit in Optentia se navorsing is.  “Die gemeenskapsadvieskomitees dien vir ons as spieël vir die aanvaarbaarheid van wat ons doen aan die een kant en wat ons probeer verander of verstaan aan die ander kant,” voeg Ian by.  

 “As ons werklik mense wil ontwikkel en nuwe kennis produseer, moet ons in ons eie gemeenskappe begin. Slegs dan kan ons na ander gemeenskappe in Suid-Afrika beweeg en uiteindelik hande vat met medenavorsers wat probeer om tendense in Afrika en ander kontekste te verstaan.”

Sistematiese redenasie kom na vore
Dit is egter waar dat navorsing ’n tydrowende aktiwiteit is. Die lede van die advieskomitee was aanvanklik ongeduldig en wou vinnige veranderinge sien in die veelvuldige probleme wat hulle elke dag in die gemeenskap moet hanteer.  Nadat hulle ’n ruk lank deel van die komitee was, het hulle begin verstaan wat daar ’n sistematiese redenasieproses is wat inherent aan wetenskaplike navorsing is. Mettertyd het lede van die advieskomitee – van wie die meeste ook leiers in die gemeenskap is – self sistematiese redenering begin toepas.

In die Suid-Afrikaanse konteks, sê Ian, voel Optentia hulle het ’n verantwoordelikheid om tot die ontwikkeling van gemeenskappe by te dra. Die kern van werklike verandering aan mense se oortuigings, gewoontes en vaardighede hou verband met die soort verandering wat geïnisieer kan word in ’n skool of in ’n organisasie wat by die gemeenskap betrokke raak.  Dit is waarom Optentia op vennootskappe met skole en gemeenskapsorganisasies soos die Orange Farm Gemeenskapsadviessentrum staatmaak.

Navorsers weet nie alles nie
Dit is belangrik om te besef dat jy as navorser nie beter as die respondent weet nie, veral in maatskaplike kontekste, sê Ian. “Die mense wat beter as jy weet, is dié wat reeds jare lank met spesifieke kwessies saamleef.  Ander het positiewe maniere ontwikkel om dinge te doen en na probleme te kyk, en dit is die dinge wat jy wil ontdek.

 “Ons glo gevolglik nie dat ons dinge hier ontwikkel asof ons weet wat vir die gemeenskap goed sal wees nie.  In plaas daarvan kan ons met hulle (die gemeenskap) se hulp wetenskaplik sterk oplossings ontwikkel om hulle behoeftes te bevredig en ’n meer positiewe gemeenskap te hê wat beter funksioneer.”

Die Optentia-navorsingsfokusarea het in 2017/18 ’n totaal van 110 eweknie-beoordeelde artikels en 24 eweknie-beoordeelde hoofstukke in boeke gelewer wat reeds aanvaar is.  Die totale getal artikels in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte (sonder eweknie-beoordeelde hoofstukke) is 50,72 (83% in ISI/IBSS-gelyste vaktydskrifte). Dit behels ’n gemiddelde impak van 1,82. Optentia verwag dat 21 meestersgraad- en 10 PhD-studente in November 2017 hulle verhandelings en tesisse vir eksaminering sal indien.


Prof Ian Rothman

 

Submitted on Thu, 11/09/2017 - 13:26