Optentia lewer die derde internasionale gesamentlike PhD

Werkloosheid het Suid-Afrika in ’n wurggreep. Volgens die jongste syfers – soos vroeër deur Statistieke SA bekend gemaak – het die amptelike werkloosheidskoers in Suid-Afrika in die tweede kwartaal van die jaar tot 29% gestyg. Dit is die hoogste werkloosheidskoers sedert 2008.

Deur getrou te bly aan sy verbintenis om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek, werk die Optentia-navorsingsfokusarea by die Noordwes-Universiteit (NWU) hard daaraan om die dinamiek te verstaan wat met werkloosheid verband hou. 

Die navorsingsfokusarea het net onlangs sy derde internasionale gesamentlike PhD van die NWU en die Katholieke Universiteit (KU) Leuven in België gelewer. Rachele Paver se doktorsgraad in bedryfsielkunde het op beroepsintervensies vir werkloses gefokus.

Meer oor die navorsingsprojek

Rachele het intervensies ondersoek om werklose individue toe te rus om werkloosheid te hanteer. Haar tesis het bygedra tot kennis ten opsigte van programme en dienste wat aangebied word om werkloses in Suid-Afrika te help, deurdat sy gefokus het op die behoefte aan psigososiale intervensieprogramme, behoorlike dokumentering van werkloosheidsprogramme, samewerking tussen rolspelers, die verspreiding van die inligting, en die monitering en evaluering van bestaande indiensnemingsprogramme.

Sy het ’n raamwerk ontwikkel wat die beste praktyke bevat om ’n werksoek-intervensie – genaamd die JOBS-program – aan te pas, te implementeer en te evalueer. Die doel van die program is om persoonlike hulpbronne en vaardighede te bevorder wat herindiensneming bevorder.

As ’n manier om ’n psigososiale intervensieprogram vir werklose mense in Suid-Afrika daar te stel, het sy die Qhubekela Phambili-loopbaanbevorderingsprogram (’n Suid-Afrikaanse weergawe van die JOBS-program), onder werklose mense van twee lae-inkomstegemeenskappe in Suid-Afrika aangepas en ontwikkel.

Rachele was vir die afgelope vier jaar ’n voltydse doktorsgraadkandidaat wat by beide die Optentia-navorsingsfokusarea asook die navorsingsgroep Werk, Organisasie en Personeelsielkunde aan die KU Leuven in België geaffilieer is. Haar PhD-kwalifikasie is deel van ’n gesamentlike PhD-program met KU Leuven, en dus ontvang sy tegelykertyd ’n PhD in sielkunde van die NWU en van KU Leuven.

* Rachele volg in die voetspore van Leoni van der Vaart (wat verskillende sielkundige tipes werklose mense en hulle motivering bestudeer het), en Melinda du Toit (wat gemeenskaps- en entrepreneursperspektiewe oor werkloosheid verkry het).

Prof Ian Rothmann (Direkteur van Optentia) en Dr Rachele Paver.

#NWUVroue

Submitted on Wed, 08/07/2019 - 10:23