NWU vroueregslui sluit by nasionale netwerk van vroueprokureurs aan

Op 12 September 2018 het voorgraadse vroulike regstudente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark die geleentheid gekry om meer oor WOLELA – Women Leading in Law, ’n nasionale netwerk van vroueprokureurs – uit te vind.

By die geleentheid, wat deur twee derdejaarregstudente – Dimpho Nkoe en Kegomoditswe Mokone – gereël is, het Amanda Emily Mashoko, ’n lid van die WOLELA-adviesraad en ook ’n sosiale entrepreneur en huidige LLB-kandidaat, op die podium jong vroue in die Fakulteit Regte gemotiveer en aangemoedig.

Volgens Dimpho en Kegomoditswe was die doel van die WOLELA-sessie om toekomstige regspraktisyns bewus te maak van die ondersteuningsnetwerke wat tot hulle beskikking is. Wanneer hulle by hierdie ondersteuningsnetwerke aansluit, word vroue bemagtig om in die regte te floreer sodat hulle uiteindelik tot die ontwikkeling van ’n gesonder regstelsel kan bydra.

Volgens Amanda, ’n voormalige administratiewe assistent in die kantoor van die openbare beskermer, is dit belangrik vir jong vroulike regstudente om hulle passie in die sektor te identifiseer en te probeer om ’n deernisvolle stem in die regswese te bly.

Nadat sy die studente gevra het wat hulle wil word nadat hulle hul regsgraad verwerf het, het sy gesê dat hulle mekaar so moet aanspreek. “As jou vriend ’n aanklaer wil word, spreek haar só aan. Nie net sal jy lewe aan haar professionele droom gee nie, maar jy sal haar ook op haar akademiese reis motiveer,” verduidelik Amanda.

Vir Amanda, wat tans besig is om ’n mentorskapprogram vir regstudente te stig, is dit belangrik dat vroue weer hulle mag in die werksomgewing moet opeis. “Een van die dinge wat my die meeste inspireer is vroue wat mekaar openlik ondersteun en ophef. Met soveel struikelblokke op die pad na sukses hoef ons nie nog een te skep deur in ons eie pad te kom nie,” sê Amanda, en voeg by dat as jy die steun van ander vroue benut, kan jy die kollektiewe energie van jou eweknieë inspan.

Meer oor WOLELA

WOLELA is ’n nasionale netwerk van prokureurs wat in 2016 gestig is deur Amanda Lamond, wat aan die hoof staan van die Centre for Integrative Law (CIL), ’n konsultantskap vir ontluikende denke in die regspraktyk. Die doel van WOLELA is om ’n nasionale netwerk vir vroueprokureurs in Suid-Afrika te ontwikkel en te bevorder om op hulle beurt weer individuele vroueprokureurs te ondersteun om te floreer.

Die organisasie het tans twee aktiewe afdelings in Johannesburg en Kaapstad. In ’n nuwe inisiatief sal voorgraadse vroulike regstudente by ’n mentorskapprogram baat. Hierdie mentees sal deur uiters vaardige vroueprokureurs in WOLELA gementor word.

* Die NWU was die eerste instelling wat in sy 2018-uitreiksessie deur WOLELA besoek is. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan amandamashoko@wolela.co.za.

Amanda Mashoko.

 

Voorgraadse studente bespreek hulle toekomstige loopbaanpaaie. 

Submitted on Fri, 09/21/2018 - 12:20