NWU PhD graduate contributes to international literature

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het met trots ’n PhD in Engels aan Manuela Fernandes-Martins, akademiese ontwikkelaar aan die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) gedurende die onlangse herfsgradeplegtigheid toegeken.

In haar tesis, An evaluation of a franchised supplementary programme in English as a second language in South Africa:  a case study, het Manuela ’n raamwerk ontwikkel en dit gebruik om die taalprogram Active English te evalueer. Hierdie program vir die onderrig en leer van Engels as tweede taal is in die Vanderbijlpark ontwikkel en komplementeer die aanleer van Engels as addisionele taal in openbare skole.

 
Manuela Fernandes Martins

 

Skadu-onderwys het ’n lang geskiedenis in Asië, waar ’n kultuur van deurlopende selfverbetering heers. Manuela se studie is die eerste studie oor skadu-onderwys in Suid-Afrika. Die studie het kwalitatiewe navorsingsmetodes in die vorm van ’n etnografiese gevallestudie gebruik. Data is uit lesobservasies; ’n klaskameromgewingsopname; onderhoude met deelnemende ouers, kinders en die franchisegewer; sowel as dokumentontledings van Active English en die Suid-Afrikaanse Departement van Basiese Onderwys ingesamel.

Die eksaminators het Manuela geloof oor die toepaslikheid van die keuse van die navorsingsontwerp en die gehalte van die gedetailleerde inligting wat verskaf is ten opsigte van etiese kodes, data-insameling, data-ontleding en interpretasie om geldige, betroubare en geloofwaardige gevolgtrekkings te kan maak.

Een van die belangrikste bevindinge uit die studie is dat ondernemings soos Active English die potensiaal het om die onderrig van Engels in die openbare skoolstelsel te verryk, indien ’n poging deur beleidmakers in die regering en entrepreneurs in die private sektor aangewend word om skoolleerders se toegang tot hierdie programme te verbreed. Die eksaminators het bygevoeg dat die kandidaat beduidend bygedra het tot die nasionale en internasionale literatuur oor die onderwerp, en dat die kandidaat nuwe kennis tot die veld toegevoeg het deur ’n raamwerk te verskaf wat gebruik kan word om ander franchisetaalprogramme te evalueer. So ’n raamwerk sal in die akademiese arena sowel as kommersieël baie waardevol wees.

Manuela Fernandes-Martins is op 11 Januarie 1980 in Vanderbijlpark gebore. Sy het aan die Vaal Hoërskool gematrikuleer (1997) en in 1998 vir ’n BA in Engels en geskiedenis aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys ingeskryf. Manuela het daarna ’n BA honneursgraad in Engels (2002) en ’n meestersgraad in Engels aan die NWU (2005) voltooi. Die titel van haar meestersgraadverhandeling was: A model for optimising subtitles for deaf and hard-of-hearing television viewers in South Africa.

Manuela het voortgegaan met haar studies en ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) met lof in 2006 voltooi. Sy het ook ’n sertifikaat aan die Royal School of Languages in Portugal voltooi wat as grondslag vir die onderrig van Engels aan sprekers van ander tale (Teaching of English to Speakers of Other Languages, TESOL) dien. In 2015 het sy as PhD-student by die navorsingsfokusarea, Verstaan en Verwerking van Taal in Komplekse Omgewings (UPSET), aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark aangesluit.

 

Submitted on Wed, 06/14/2017 - 15:29