Nuwe digitale gids wil township-ekonomie ’n hupstoot gee

Innovasie bloot ter wille van innovasie is nie innovasie nie. Ware innovasie is om die alledaagse uitdagings te identifiseer en nuwe en volhoubare oplossings daarvoor te vind.

Só sê Olivier Tshimbidi, alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU), en een van die stigterslede van Khomba Africa, ’n nuwe digitale platform wat besteding na plaaslike townships wil rig en daardeur die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n hupstoot te gee.

Die aanlyn gids – wat aan gebruikers die keuse bied om van ’n app of webwerfkoppelvlak gebruik te maak – sluit ’n plaaslike sakegids met die eienskappe van ’n e-handelsplatform in. Kortom: ’n platform wat KMMO’s met verbruikers verbind wat naby aan hulle is en ’n behoefte aan hulle produkte of dienste het.

Alumni vat voor

Aan die stuur van Khomba Africa sal jy vir Olivier en mede-NWU-alumnus Ndumisa Hadebe kry, asook hulle sakevennote Murendeni Nefale en Jose Andre Paiva. Hierdie viermanskap het dit reggekry om saam nie net die krag van digitalisering in te span en om verbruikers en KMMO’s by mekaar uit te kry nie, maar ook om nuwe lewe in die Suid-Afrikaanse mark te blaas.

Olivier sowel as Ndumisa het aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark gegradueer met BCom-grade in ondernemingsbestuur en entrepreneurskap en in ekonomie en internasionale Hhndel. Só was Olivier en Ndumisa ook verkose studenteleiers tydens hulle verblyf op die kampus.

Benewens Khomba, werk Olivier as senior mede-prestasieverbeteringskonsultant in die olie en gas-afdeling by Ernst Young in Sandton. Op sy beurt is Ndumisa, wat ook ’n vorige wenner van die SABC se gewilde One Day Leader-kompetisie is, ’n onafhanklike ekonomiese navorser en openbare spreker.

Aan die hart van innovering

Die enkele vernaamste dryfkrag agter die gids is die vraag: “Watter soort innovasie het Afrika nodig? Olivier verduidelik dat hy en sy kollegas van mening is dat ’n ontwikkelingsbenadering tot innovering Suid-Afrika op die pad na groter ekonomiese stabiliteit en ontwikkeling sal lei. “Almal praat van die vierde industriële revolusie, maar in ons land, met inagneming van ons geskiedenis en stryd, is talle mense van die eerste en selfs die tweede industriële revolusie ontneem,” verduidelik Olivier, en voeg by dat ’n ontwikkelende benadering tot innovasie plek maak vir aanpassing van nie net die kliënt se ervaring nie, maar ook van die entrepreneursonderneming.

Waar entrepreneurs gewoonlik op mondelinge aanbeveling vir bemarking staatgemaak het, maak die digitale gids nou die speelveld gelyk en dien mededingendheid in die mark as gelykmaker. ’n Bykomende diens laat kliënte enige besigheid wat in die gids gelys is, sien en dit gradeer, en as sodanig word die wettigheid van gelyste besighede verseker.

Wat die gids verder so uniek maak, is dat dit kliënte in staat stel om spesifieke geografiese soektogte te doen en daardeur nie net die plaaslike ekonomiese ontwikkeling te stimuleer nie, maar ook toe te laat dat KMMO’s die luukse van ’n doeltreffende digitale aanwesigheid ervaar. Aan die ander kant laat die platform toe dat waardevolle data ten opsigte van verbruiker- en KMMO-interaksies ingesamel word. Hierdie insigte kan dan gebruik word om bepaalde navorsing te doen wat uiteindelik beleide en intervensiestrategieë sal beïnvloed wat daarop gerig is om KMMO’s tot volhoubare sakeondernemings op te bou.

Om ’n kort video oor Khomba Africa te kyk, klik hier.

Jose Andre Paiva, Olivier Tshimbidi en Ndumisa Hadebe. Die vierde vennoot is Murendeni Nefale.

Die gids stel gebruikers in staat om van ’n app of ’n webwerfkoppelvlak gebruik te maak. 

 

Submitted on Mon, 03/12/2018 - 09:32