Navorsing ondersteun innoverende strategieë vir onderrig en leer in rekeningkunde-klaskamers

As ’n professionele opvoeder is die Noordwes-Universiteit (NWU) se dr Viné Petzer passievol daaroor om die krag van opvoeding te ontgin. Veral waar dit by die wetenskap van die onderrig van rekeningkunde kom.

Dr Petzer het meer as 15 jaar praktiese ervaring as dosent in rekeningkunde in hoër onderwys, en het onlangs haar doktorsgraad in onderrig en leer verwerf. Sy is vasberade om die geleidelike afname in die vak se slaagsyfer, en die gevolglike daling in die getalle van leerders wat hierdie vak in die hoërskool of op Verdere Onderwys en Opleiding-vlak (VOO-vlak) neem, aan te pak.

“Dit spreek vanself dat die klaskameromgewing, wat hoofsaaklik onder die beheer van die onderwyser is, die potensiaal het om die manier te beïnvloed waarop leerders hulle kennis van rekeningkunde benader, sowel as die leeruitkomste wat hulle in die vak bereik,” sê dr Petzer.

Sy voeg by dat dit belangrik vir onderwysers en opvoeders-in-opleiding is om daarop te let dat kennis van die vakinhoud alleen nie ’n aanduiding van leersukses nie.

Tydens haar navorsing het sy gesprekke met ’n heterogene groep leerders en onderwysers van openbare hoërskole in Gauteng gevoer, en die bevindings sluit belangrike klaskamertoestande in.

Dit sluit onder andere in positiewe en passievolle onderwysers wat: verskillende vlakke van vermoëns akkommodeer deur verskillende onderrig- en assesseringsmetodes te gebruik; deurlopende, presiese en konstruktiewe terugvoer verskaf; akkuraatheid en volharding motiveer en aanmoedig; ’n veilige ruimte vir leerders skep om vrae te vra; ondersteuning gee waar dit nodig is; ʼn positiewe verhouding tussen hulle en die leerders asook tussen leerders onderling skep; en die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede stimuleer.

Meer oor die kundige

Dr Petzer is ’n dosent aan die Skool vir Besigheid en Sosiale Studies in Onderwys op die kampus in Vanderbijlpark.

Sy het in 1996 ’n BCom-graad en in 1997 ’n Hoër Onderwysdiploma aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf. Sy het in 2007 ’n BEdHons-graad en in 2010 ’n MEd in onderrig en leer aan die NWU behaal.

Dr Petzer was vanaf 1996 tot 2000 ’n dosent in rekeningkunde by die Sebokeng Onderwyskollege, en vanaf 2001 tot 2008 ’n onderwyser by die Afrikaanse Hoërskool in Sasolburg.

As kundige in onderrig en leer het sy verskeie akademiese referate by nasionale en internasionale konferensies aangebied, en sy het ook tot ’n hoofstuk in ’n boek, Developing Critical Thinking, bygedra.

Haar navorsingsbelangstellings fokus tans op die verbetering van onderrig- en leerstrategieë en -metodes in rekeningkunde met die doel om kognitiewe ontwikkeling onder leerders, asook by opvoeders-in-opleiding, te bevorder.

 

Dr Viné Petzer.

#NWUVroue

 

Submitted on Tue, 08/06/2019 - 14:59