Kyk waar jy loop: studentepedometeruitdaging!

Die tweeweek-uitdaging om meer aktief te wees, is aan die gang, en met die lente net ’n paar weke weg, is alle lede van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampusgemeenskap in Vanderbijlpark gereed om aan die Studentepedometeruitdaging deel te neem.

Die kompetisie, aangebied deur die Skool vir Bestuurswetenskappe, sal van 12 tot 25 Augustus 2019 plaasvind en studente kan in spanne van drie deelneem. Nie net is groot spoggeleenthede aan die orde van die dag nie, maar verskeie opwindende pryse is ook op die spel.

Volgens dr Chantel Muller, ’n dosent in bemarkingsbestuur en die organiseerder van die geleentheid, is die doel van die kompetisie om studente te motiveer om meer aktief te wees en – toegerus met ’n pedometer of aktiwiteitsopspoorder – hulle treë na beter gesondheid te tel.

“Stap is die beste oefening om jou gesond te hou en geestelike en kognitiewe funksionering te verbeter,” sê dr Muller, en voeg by dat die kompetisie ook sal help om kameraderie tussen spanlede te bou. 

Hoe om in te skryf

Stel spanne met drie lede saam en kies ’n spankaptein, wat die aanlyn registrasievorm invul. Spanne stap of loop dan soveel treë as moontlik gedurende die twee weke van die uitdaging en gebruik ’n aktiwiteitsopspoorder of pedometertoepassing op hulle slimfone.

Aan die einde van elke week gebruik die spankaptein ’n skakel om die span se vordering op te laai.

Vir meer inligting, kontak dr Muller per e-pos by 23488042@nwu.ac.za, of besoek haar kantoor in gebou 3.

Submitted on Tue, 08/06/2019 - 14:47