Kantoor vir studente met spesiale behoeftes baat by Fuchs-stigting

Die kantoor vir studente met spesiale behoeftes – of die OSSN soos dit onder die studente op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark bekend staan – het onlangs ’n R20 000-skenking van die Carl en Emily Fuchs-stigting ontvang.

Volgens dr Sydney Vos, OSSN-koördineerder, het die skenking dit moontlik gemaak om dienste wat deur die kantoor gelewer word, verder uit te brei. “Deur hierdie ruim skenking kon die OSSN ’n meer omvattende diens by die kampus ontwikkel en bemark en sodoende kon ons alle aspekte van toeganklikheid, hetsy liggaamlik, tegnologies of sosiaal, verbeter,” verduidelik dr Vos.

Volgens dr Vos kan die impak gesien word wanneer ’n mens die OSSN-statistiek van 2016 met dié van 2017 vergelyk.

Tipe gestremdheid

2016

2017

Gehoorgestremdheid

2

4

Leerhindernisse

12

14

Liggaamlike gestremdheid

9

12

Psigologiese gestremdheid

41

61

Spraakgebrek

0

1

Tydelike gestremdheid

5

2

Gesigsgestremdheid

8

9

 

 

 

Totaal

77

103

 

Benewens bogenoemde groei in getalle het die skenking ook vir dr Vos en sy span in staat gestel om studente vir evaluering na mediese praktisyns te verwys sodat hulle op medikasie geplaas kon word. Die Conners’ Adult Rating Scale vir ADHD en die Copeland Symptom Checklist for ADD is ook aangewend om studente te evalueer.

Meer oor die OSSN

Die OSSN word deur Studentevoorligting en -ontwikkeling (SVO) geadministreer as een van die talle dienste aan studente met spesiale onderwysbehoeftes. Die primêre doelwit van die OSSN is om toeganklikheid en ’n verwelkomende leeromgewing vir alle studente met gestremdhede te skep.

Die OSSN belowe om studente met gestremdhede te help om redelike akkommodasie in akademiese en nie-akademiese programme te kry en om ’n bewustheid van die probleme en vermoëns van mense met gestremdhede in die kampusgemeenskap te skep.

Meer oor die Carl en Emily Fuchs-stigting

Die Carl en Emily Fuchs-stigting is ’n privaat befondser of skenkingsorganisasie wat op nasionale gebied in Suid-Afrika werk.

Die stigting is op 1 Augustus 1969 deur die stigters, dr Carl en mev Emily Fuchs, tot stand gebring, hoofsaaklik as gevolg van die welvaart wat geskep is deur die CJ Fuchs (Edms) Bpk groep maatskappye wat hulle in 1929 gestig het. As gevolg van die hartseer feit dat die stigters nie kinders van hulle eie kon hê nie, is die stigting verder deur die opbrengs van hulle persoonlike boedels versterk.

Oor die talle jare heen waarin daar skenkings gemaak is, is baie van die fondse op die gebied van kindersorg, gesondheidsdienste en opvoedkundige programme aangewend. Die stigting self is as ’n niewinsgewende organisasie (NWO) sowel as ’n openbare weldaadsorganisasie (OWO) geregistreer en bevorder die mobilisering van verskillende hulpbronne en die praktyk om op ’n proaktiewe wyse vennootskappe te bou, asook om langtermynverhoudings te bou met die doel om volhoubare ontwikkeling, organisatoriese kapasiteitsbou, die bemagtiging van mense en impakevaluering te verseker.

 Dr Sydney Vos.

Submitted on Wed, 07/19/2017 - 11:40