Kampus se Golden Key-afdeling vier nuwe hoë status

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se tak van die Golden Key internasionale erevereniging gaan van krag tot krag.

Die afdeling op die kampus in Vanderbijlpark het onlangs die gesogte goue toekenning (Gold Chapter Standing) gekry vir sy betrokkenheid by en voldoening aan die vereniging se pilare van akademie, leierskap en diens. Dit is bereik deur die aktiewe implementering van en deelname aan gebeurtenisse, fondsinsameling en diensprojekte.

Golden Key gebruik standaarde vir afdelings om elke afdeling se prestasie te bepaal en dan aan afdelings ’n brons, silwer of goue status toe te ken. ’n Goue status is die hoogste moontlike standaard in die vereniging en is ’n bewys van ’n verbintenis tot en ’n toewyding om meer te doen as was daar van jou verwag word. Minder as 25% van die afdelings ontvang hierdie erkenning.

’n Wêreldwye impak

Die vereniging is wêreldwyd by meer as 400 universiteite regoor Australië, Kanada, Indië, Maleisië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die Verenigde State geaffilieer. Die vereniging se doelwit is om lede in staat te stel om hulle potensiaal te verwesenlik deur individuele prestasie met diens- en lewenslange leergeleenthede te verbind. Golden Key Suid-Afrika – wat in 2000 tot stand gekom het – het tot dusver ’n invloed op die lewens van meer as 70 000 jong Suid-Afrikaners gehad.

Nuwe komitee aan die stuur

Die Vanderbijlpark-afdeling spog met ’n nuwe uitvoerende komitee vir die 2019/2020-termyn. Die komiteelede is:

  • Mokgadi Mabitsela, voorsitter
  • Lebohang Nkosi, ondervoorsitter
  • Tshiamo Nthane, tesourier
  • Boitumelo Hlophe, sekretaris
  • Thulani Mathebula, ledewerwing
  • Lesego Namane, professionele ontwikkeling
  • Patrick Radebe, kampus- en gemeenskapsuitreiking
  • Michael Makoti, openbare betrekkinge
  • Afikile Dube, fondsinsameling
  • Lerato Khanye, dienstedirekteur
  • Dimakatso Moagi, algemene komiteelid

* Die Vanderbijlpark-afdeling het vroeër hierdie jaar ’n totaal van 250 nuwe akademiese presteerders in hulle midde verwelkom.

 

 

 

 

 

Submitted on Fri, 10/18/2019 - 08:59