Jong karateka mik na goud

Talle karatekas droom daarvan, maar baie min kry ooit die geleentheid om die Land van die Opkomende Son te besoek. Stephen Moeketsi, ’n finalejaar-BEd-student van die Noordwes-Universiteit (NWU), is een van die min gelukkiges wat die tuiste van karate, Japan, gaan besoek.

Stephen (25), ’n student op die NWU se kampus in Vanderbijlpark, het onlangs gekwalifiseer om die Universiteitsport Suid-Afrika-span (USSA-span) te verteenwoordig by die glansryke Karate Dream Festival 2018, wat in Julie gaan plaasvind. Hy gaan aan die onder-70 kg-kategorie deelneem.

Die geleentheid van ’n leeftyd

Volgens Stephen sal hierdie reis Japan toe sy eerste internasionale reiservaring wees, en hy is opgewonde om die beste gebruik te maak van hierdie geleentheid, wat een keer in ’n leeftyd voorkom. As ’n swart gordel eerste Dan is Stephen in vegkuns opgelei en beoefen die sport reeds vanaf die ouderdom van 14 jaar. “Ek was ’n woedende tiener en ek het besluit om my woede deur karate te bestuur,” sê Stephen, en voeg by dat die sport hom dissipline geleer het, asook hoe om te fokus. “Ek het nog nooit weer teruggekyk nie. Vandag is karate deel van my lewe.”

Wat die prestasie van hierdie jongman van Sebokeng in Vanderbijlpark selfs meer besonders maak, is dat hy homself grootliks geleer het. Toe hy gevra is wat die verskil is tussen ’n gemiddelde en ’n buitengewone gevegskunstenaar, was sy antwoord: “toewyding, nederigheid, geduld, respek en ’n liefde vir die sport”.

Oor katas en opleiding

Volgens Stephen vorm katas (gedetailleerde gechoreografeerde patrone van beweging) – strydig met dit wat algemeen aanvaar word – ’n integrale deel van enige gevegskunstenaar se opleiding. “Dit word ook voorafgereëlde gevegte genoem,” verduidelik Stephen, en voeg by dat ’n mens gevegsbewegings uitvoer terwyl jy visualiseer dat jou opponent voor jou staan.

Moeketsi en sy spanmaats gaan teen Julie al hulle vaardighede goed moet ken, aangesien die toernooi ’n vollekontaktoernooi (Kyokushin) is. Die enigste reëls is dat jy nie jou opponent in die gesig mag slaan, onder die gordel mag skop, of mag slaan as hy lê of wanneer hy sy rug op jou gedraai het nie.

Stephen is tans aan die hoof van die kampus se karateklub en opleidingsessies vind op Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydae van 17:00–18:00 plaas. Vir meer inligting oor die klub, kontak vir Stephen by 063 708 1522.

 

Stephen Moeketsi van die NWU Vanderbijlpark is gekies om deel te neem aan die wêreld se Karate Dream Festival wat vanaf Julie in Tokyo, Japan plaasvind. Foto: Ettienne van Rensburg.

 

Submitted on Wed, 04/18/2018 - 12:38