Jong beginners gaan by entrepreneursikoon leer

As jy ’n beginner-entrepreneur is of dit oorweeg om ’n entrepreneursonderneming te begin, omkring 9 Mei 2018 op jou dagboek met jou rooi pen.

Op hierdie dag gaan die Noordwes-Universiteit (NWU) se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) ’n werkswinkel en netwerksessie met die baanbreker-entrepreneur Ipeleng Nonkululeko Mkhari as gasspreker aanbied. Die geleentheid, wat by die bhive EDC in Vanderbijlpark gaan plaasvind, sal om 14:00 begin.

Meer oor Ipeleng Nonkululeko Mkhari

Ipeleng is ’n entrepreneur par excellence en ’n belangrike rolmodel vir enige entrepreneur. Sy is die stigter en HUB van Motseng Investment Holdings – ’n gediversifiseerde beleggingsgroep met beleggings wat batebestuur, eiendomsbestuur, infrastruktuurbeleggings, logistiek en industriële vervaardiging insluit. As ’n entrepreneur het sy geskiedenis gemaak deur die eerste swart vrou te wees wat ’n CCTV-onderneming begin het en daarna in 1998 Motseng Investment Holdings (MIH), wat ’n gediversifiseerde beleggingsgroep is, help stig het.

In November 2012 was Ipeleng, as ’n uitvoerende bestuurslid van Motseng Investment Holdings, betrokke by die bevordering van die Delta Property Fund, ’n vooraanstaande eiendomsleningseffektemaatskappy onder swart bestuur en hoofsaaklik in swart besit, en wat ook op die JSE genoteer is. Die fonds spog vandag met ’n batewaarde van ongeveer R7 miljard.

Ipeleng het ’n BSc-graad en het ’n uitvoerende ontwikkelingsprogram by Wits se Besigheidskool voltooi. Sy is ook ’n Aartsbiskop Tutu-genoot.

Sy het op verskeie rade van ongenoteerde en genoteerde ondernemings gedien, asook in agentskappe in die openbare sektor en in niewinsgewende organisasies. Sy is tans ’n nie-uitvoerende direkteur van KAP Industrial*, Nampak*, die Suid-Afrikaanse Eiendomsvereniging (SAPOA), en ’n lid van die bestuursraad van die St John’s Diocesan School for Girls. 

’n Entrepreneursikoon

Tydens haar 20 jaar lange entrepreneursloopbaan is Ipeleng as Cosmopolitan se Mover of the Year aangewys en was sy in 2006 ’n finalis in die Entrepreneur-sakevrou van die Jaar-toekenning (van die Nasionale Sakevrouevereniging). Sy is in 2008 as een van die CEO-tydskrif se invloedrykste vroue in die sakewêreld aangewys. Kort daarna het Ipeleng in The Times (Maart 2012) as een van die 20 Movers and Shakers in Africa verskyn, asook in die Destiny-tydskrif as een van die 25 inspirerendste entrepreneurs (Julie 2013). Sy het in November 2015 die Pioneer Woman of the Year-toekenning van Forbes Woman Africa ontvang. Ipeleng is trots om die aangewese voorsitter van die Suid-Afrikaanse Eiendomsvereniging (SAPOA) vir 2017/18 te wees. Sy het onlangs ’n platinumlid geword van die Women Presidents Organization (WPO) vir die afdeling suid van die Sahara.

 *Op die JSE genoteer

Meer oor die geleentheid

Die werkswinkel en netwerksessie is oop vir die publiek, asook vir studente van die NWU. Die werkswinkel vind van 14:00 tot 16:00 in die Open Incubator in Gebou 3 plaas. Ruimte is beperk en mense wat belangstel, moet hulle plekke bespreek. Vir meer inligting kontak die bhive EDC by 016 910 3393 of stuur ’n e-pos aan bhive@nwu.ac.za.

Ipeleng Nonkululeko Mkhari

Submitted on Mon, 05/07/2018 - 10:24