IP Forum bring hoop met skryfbehoefte projek

Skoolbenodigdhede soos skryfbehoeftes is nie goedkoop nie. Vra enige ouer, veral diegene in die laer inkomstegroepe: dit kan ʼn moeilike en stresvolle taak wees. Hierdie stres word egter as soveel erger ervaar deur die leerders wat gevolglik sonder hierdie noodsaaklike items moet klaarkom.

Met hierdie realiteit in gedagte, het ʼn groep studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark onlangs ʼn veldtog van stapel gestuur om skryfbehoeftes in te samel.

Die Bedryfsielkunde Forum (IP Forum) – ʼn geaffilieerde akademiese studentevereniging binne die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur – doen ʼn beroep op alle lede van die kampusgemeenskap vir hulle hulp met en ondersteuning van, hierdie aksie.

Die doel van die projek is om so veel as moontlik nuut en gebruikte skryfbehoeftes as moontlik vir leerders in te samel. Volgens lede van die IP Forum sal die skenkings aan Graad 12-leerders in Sharpeville geskenk word. Tipiese skryfbehoeftes vir senior leerders sluit in:
•    A4 eksamenblokke
•    A4 hardebandboeke
•    Wetenskaplike sakrekenaars
•    Wiskunde stelle
•    Penne (swart en blou)
•    Potlode
•    Glimpenne (highlighter)
•    Liniale
•    Skêre
•    Krambinders
•    Knipbooglêers

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak of oor waar om donasies afgeepunte, kontak Bokang by 079 396 7021 of Palesa by 073 803 3561.

*Die Skool vir Bedryfsielkunde en Menslike Hulpbronbestuur is in die Fakulteit van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Submitted on Fri, 03/29/2019 - 09:05